NEHEMIA – DELEGERING (1)

image_pdfimage_print

 “If I had only one sermon to preach, it would be a sermon against pride.” ~G. K. Chesterton

Nehemia –  Delegering (1)

Daar is al heelwat boeke oor Nehemia as leier geskryf. Nou het nog ‘n nuwe boek verskyn: Leader after God’s own Heart deur Jim George (2012). Kom ons kyk na sekere aspekte van Nehemia se leierskap.

 

Kenmerk #7: Delegering … stel jou leierskap vry

Hulle het gesê: “Kom ons bou!” en hulle het die goeie werk aangepak (2:18).

 

Die taak voor Nehemia lyk onmoontlik. Ander voor hom het tog al die handdoek ingegooi. Die mense het ook geglo dat dit ‘n onmoontlike taak was. Nehemia was hiervan bewus. Dit het hom nie gestop nie, maar hy was wel versigtig. God het immers die taak op sy hart gelê. Hy weet ook dat as God beveel, hy sal voorsien.

 

Nehemia het nie genoeg mense saamgebring om die taak af te handel nie. Die plaaslike inwoners moes help. Hy kon hulle tog nie dwing om hom te help nie. Wat doen hy?  Hy gee verskillende gedeeltes van die projek aan verskillende werkspanne bestaande uit plaaslike mense. Dit maak die taak meer hanteerbaar vir almal. Hy gee aan hulle die gedeelte van die muur om te herbou wat naby aan hulle huise is. Dit maak sin vir die mense. Deur take te delegeer word die oënskynlik onmoontlike moontlik.

 

Hierdie strategie herinner aan die raad wat Jetro aan Moses gegee het – kies bekwame manne om jou met jou taak te help (Eksodus 18:21 – 22). ‘n Goeie leier doen nie daardie dinge wat ander mense kan doen nie. In die proses van delegering kom nuwe leiers na vore. Die oorspronklike leiers bly kreatief en konsentreer op die groot take wat  hulle aandag nodig het.

 

Die vrees vir delegering

Soms kan die leier wat werk na ander delegeer dit beter en vinniger doen. Maar as die leier alles self probeer doen, verloor hy sy fokus en verswak sy leierskap. Elke leier se tyd, krag en vermoë is beperk. Daarom moet hy delegeer. Hoekom delegeer leiers nie? Vrees

  • Vrees hy verloor beheer. Leiers wil in beheer wees; leiers wil besluite neem; leiers wil probleme oplos. Dit werk goed solank as dit ‘n klein projek is. Omdat hulle nie kan/wil delegeer nie, beperk hulle hulle doeltreffendheid.
  • Vrees vir onbekwaamheid. Hy is bang ander kom nie die mas op nie; hy twyfel aan hulle vermoëns; hy is bang hy moet later kom en die gemors regstel. Omdat hy goed is in wat hy doen, vertrou hy nie ander nie.
  • Vrees dat hy erkenning sal verloor. Baie leiers hou van erkenning – die kalklig. Hulle hou daarvan as mense vir hulle sê dat hulle goeie werk doen. Hy delegeer moeilik, want netnou kry ander die lof en erkenning.
  • Vrees omdat jy ander nodig het. As jy delegeer erken jy dat jy ander nodig het om die taak te voltooi. Hulle glo dat dit ‘n teken van swakheid is.
  • Vrees om kennis oor te dra. Kennis is ‘n kragtige leierskapsinstrument. Ons hoor dikwels: kennis is mag. As ‘n leier dit glo, gaan hy huiwerig wees om te delegeer. Hy mag stukkies kennis met ander deel, maar die kern hou hy vir homself. Die gevolg is dat diegene wat saam met hom werk gefrustreerd word. Die projek gaan waarskynlik misluk, want die mense het nie al die kennis wat hulle nodig het om die projek suksesvol te voltooi nie.

 

Die vraag nou is: Hoe delegeer ek?

image_pdfimage_print