Paulus se brief aan die Filippense (1: 6-7) – Francois Malan

image_pdfimage_print

In vers 5 het Paulus geskryf oor die periode vanaf die stigting van die gemeente tot Paulus se skrywe van hierdie brief. In vers 6 kyk Paulus na die toekoms. Paulus sê: 1:6 ‘juis hiervan oortuig dat Hy, wat ‘n goeie werk in julle begin het, dit sal voltooi tot op die dag van Christus Jesus.’ Die sinsnede is ’n bysin by die beginwoorde van die paragraaf: ‘Ek dank my God.’ Paulus se dank aan God gaan hand aan hand met sy vertroue op God. ‘…in volle vertroue (pepoithōs oortuig, vertroue) dat Hy wat die goeie werk in julle begin het, dit sal voltooi…’ Paulus se vertroue op God is ook ’n groot tema in sy briewe. Die woord peithō kom 22 keer in sy briewe voor. Hier kom die woord voor in 1:6,14,25; 2:24 as vertroue op die Here. Daarteenoor vertroue op menslike dinge in 3:3,4 (2020 vertaal en pepoithōs soms as ‘ek is oortuig,’ in plaas van: ‘in volle vertroue’). Dit was nie Paulus wat die goeie werk in Filippi begin het nie, ook nie die Filippense self nie, maar God wat begin werk het, met die gesig van die Macedoniese man wat Paulus geroep het (Hand 16:9), wat Lidia se hart oopgemaak het (Hand 16:14), die slavin wat aanhoudend uitgeroep het dat Paulus-hulle diensknegte van die Allerhoogste God is wat die pad tot verlossing verkondig (Hand 16:17) – die Here se manier om Paulus-hulle in Filippi bekend te stel. Daarna het Hy die tronkbewaarder op sy knieë gehad met die aardbewing, wat gelei het tot sy en sy hele gesin wat gedoop word (Hand 16:26,29). Paulus vertrou ten volle op die Here dat Hy daagliks besig is om mense te oortuig van hulle sonde en verlossing deur Jesus Christus en hulle daagliks te lei. Fil 2:13: Dit is immers God wat in hulle werksaam is, sodat hulle gewillig is en optree soos Hy dit goedvind (vgl. Joh 16:8 vir die oortuigingswerk van die Heilige Gees in ons). In Ps 138:8b vra Dawid ‘HERE moet tog nie u handewerk laat vaar nie.’ ‘in julle’ kan verwys na: in die gemeente en in elkeen van hulle. ‘Die goeie werk’ verwys na God wat hulle geroep het (3:14), geloof in Jesus geskenk het, waardeur hulle aan Jesus verbind is (Fil 2:1; 3:9; Ef 2:8), en so kinders van God geword het (2:15), vir wie Hy daagliks lei (Ef 5:18) om met hulle woorde en lewenswyse te bely dat Jesus Christus hulle Here is tot eer van God die Vader (Fil 2:11,13,15). Om die werk te voltooi (epitelesthai): die fokus van die woord voltooi is op God se uitvoering van sy doel met elke gelowige. ‘…tot op die dag van Christus,’ verwys na die wederkoms van Christus om te oordeel, en die nederige liggaam van die gelowiges gaan verander om gelykvormig te word aan Christus se verheerlikte liggaam (3:20-21; vgl, 2 Kor 3:18). Dit betken om innerlik suiwer en onberispelik te wees (1:10). Dan sal God se werk aan sy gemeente van Christusgelowiges voltooi wees, sy doel met hulle bereik het. 1:7 ‘Dit is immers vir my reg om so oor julle almal te dink omdat julle my in julle hart hou. Wat my gevangenskap sowel as die verdediging en bevestiging van die evangelie betref, deel julle almal saam met my in die genade,’ Vers 7 gee die rede aan waarom dit vir Paulus reg is om oor die Filippense te dink soos wat hy in verse 3-6 geskryf het; eintlik dat dit voor God geregverdig is om so te dink. Hy is dankbaar oor God se werk in elkeen van die Filippense; dit is daarom vir hom ’n vreugde om aan hulle te dink, aan hulle getroue belangstelling in die werk wat God deur sy verkondiging van die evangelie doen. Die Griekse sin van vers 7 is dubbelsinnig met ‘my’en ‘julle’ albei as voorwerpe. Dit kan vertaal word as ‘omdat ek julle in my hart hou’ dat hulle vir hom dierbaar is, soos die meeste vertalings dit vertaal. Dit kan ook vertaal word as ‘omdat julle my in die hart het,’ oor hulle liefde vir Paulus, soos byvoorbeeld in die Nuwe Lewende Vertaling en in die New English Bible, wat beter pas in die gang van die argument. Moontlik wou Paulus altwee met een sin uitdruk, hulle liefde vir hom en sy liefde vir hulle – soos wat hulle almal met hom deelgenote is aan die genade. Die geheim van die gemeente en Paulus se liefde vir mekaar is dat hulle saam deelgenote is (sunkoinōnía) aan die genade van God. Dit is ook die kern van die hele paragraaf (vgl. hulle deelgenootskap, koinōnía, in die evangelie in vers 5). Paulus sien die groot wonder van God se genadige gesindheid teenoor die mensdom, hier veral teenoor homself en elke gelowige in Filippi, wat hulle ook aan mekaar verbind. Want hulle het saam die genade van God ontvang om in Jesus Christus te glo, en het saam volgelinge geword van Jesus Christus. Daarom deel hulle in Paulus se aantal gevangenskappe wat hy al moes verduur (2 Kor 11:23), in Jerusalem (Hand 21:33), twee jaar in Sesarea (Hand 24:27) en nou in Rome (Hand 28:30). Hulle deel ook in sy verdediging en bevestiging van die evangelie van Jesus Christus (vgl. bv. Hand 26:1,24; en Fil 1:12-14). As Paulus ly, ly hulle saam met hom; as hy die evangelie verdedig en bevestig, is hulle deel daarvan. En Paulus bid vir hulle wat ly onder die vyandige Romeinse owerheid en harde afgetrede soldate wat die evangelie teenstaan (Fil 1:28), dat hulle nog steeds die evangelie sal verkondig en uitlewe. Deur die inwoning van die Heilige Gees in Paulus en in elkeen van hulle, is hulle almal saam deelgenote aan Christus en aan God se onbegryplike groot genade. Die gemeente se gereelde bydrae tot Paulus se versorging is die praktiese bewys van hulle liefde teenoor hom in hulle voorbidding vir hom en hulle belangstelling in hom en sy werk. Dit alles regverdig Paulus se siening van hulle liefde vir die Here, wat daardeur tot uiting kom, en dat hy oortuig is van hulle deelgenootskap aan die genade van God. Daarom dank hy God elke keer met blydskap wanneer hy aan hulle dink en vir hulle bid (vers 3)

image_pdfimage_print

You may also like...