Psalm 27 (2)

image_pdfimage_print

 

The greatest sorrow and burden you can lay on the Father, the greatest unkindness you can do to him, is not to believe that he loves you. —John Owen

 

Psalm 27 (2)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

27:3 – 6:

Hier word die getuienis in meer diepte herhaal.

3Al sou ’n leër teen my laer opslaan, sal my hart nie bang wees nie;

Al sou ‘n oorlog teen my uitbreek, sal ek bly vertrou.

Soos vers 1 is dit nog ‘n verklaring van vertroue Die ondervinding uit die verlede toe hy deur vyande aangeval is, is die basis vir sy vertroue. Nog ‘n aanval deur ‘n leër is geen probleem nie.

 

4Een ding het ek van die Here gevra en dit sal ek bly nastreef:

Om my lewe lank in die huis van die Here te woon,

om die lieflikhede van die Here te aanskou en daaroor na te dink in sy tempel.

Die psalmis kyk terug na ‘n gebed aangebied midde in gevaar. Hier kry ons ook die tema van woon in die Here se huis. Dit verwys na die Here  se permanente beskermende teenwoordigheid en na die vryheid om die Here se  leiding te soek. Die Here is in die tempel teenwoordig, maar Hy is ook teenwoordig as ons in die alledaagse lewe onder druk verkeer. Sy pleidooi is dat hy te alle tye na die tempel kan gaan.

 

Die derde reël noem dan twee redes vir so ‘n besoek aan die tempel.

  • Om die lieflikhede van die Here te aanskou – in die Ou Testament is die siening dat ‘n mens nie na die Here kan kyk nie. Daarom word sy lieflikhede aanskou.
  •  En daaroor na te dink in sy tempel. Dit gaan hier oor nadenke  oor die Here se wil vir die psalmis en die mense.

 

5Ja, Hy steek my weg in sy skuilplek op die dag van onheil;

Hy verberg my in die beskutting van sy tent;

Hy tel my hoog op ‘n rots.

Hier dink die psalmis na oor wat gebeur het as gevolg van sy gebed. Wat die psalmis gevra het en wat die Here belowe het kom ooreen met die werklikheid waarvan ons in vers 1 – 2 gelees het. Ander beelde word gebruik. Die gebed was dat wanneer die kwaaddoeners aanval, sal die Here hom en sy mense beskerm. Die gebed is dat hy in die tent van die Here veilig sal bly. In die derde reël kry ons ‘n nuwe beeld – die van ‘n rots. Gewoonlik is die Here self die rots. Die psalmis vra dat hy opgetel moet word na die Here. Daar sal hy beslis veilig wees.

 

6Daarom is my kop hoog bo my vyande rondom my.

Ek wil met uitroepe van vreugde offers bring in sy tent,

Ek wil sing, met begeleiding sing, vir die Here.

Die psalmis verbly hom in die antwoord op sy gebed. Beskerming beteken oorwinning en dankbaarheid. Sy kop is hoog, want hy is opgetel op die Here se rots. Die Here beskerm hom; die Here verseker sy oorwinning oor die vyande. Daarop volg die toepaslike dankoffer. As  die Here optree kan ons ons koppe oplig  – iets wat andersins onmoontlik sou wees. Ons kan ook ons offers bring en ons stemme in sang verhef.

 

Hierdie deel word gekenmerk deur die psalmis se vertroue dat God hom teen sy vyand sal beskerm, terwyl hy in die tempel, waarvoor hy lief is, skuil. Omdat God die Skepper is, is vrees onnodig. Toevlug beteken die bron van my krag. By die Here is hy nie bang nie: misdadigers kan maar op hom afstorm en ‘n leër kan teen hom stelling inneem. Waar die psalmis voor sy vyande uit moes vlug na die tempel toe, was sy verlange op die tempel gerig. Daar kan hy veilig skuil by die Here.

 

In Bybelse tye het mense in vier posisies aanbid:

  1. Jy kon sit vir nadenkende gebed – soos Jesus gesit het as Hy mense onderrig het.
  2. Jy kon kniel – eintlik gaan jy af op jou knieë met jou voorkop op die grond. Hierdie posisie is later nie meer gebruik nie, want baie kerke het moddervloere en geen banke gehad nie.
  3. Plat op die grond op jou aangesig. Dit was die gewone burger se posisie voor die farao.
  4. Dikwels het mense gestaan as hulle gebid het.

 

Die beeld is dus dié van ‘n man wat God aanbid terwyl hy in die tempel sit. Hy soek, oor ‘n lang tydsperiode, die wil van God. Hierdie houding beskryf sy lewensgesindheid. As gevolg van sy nadenke weet hy wat dit beteken om saam met God te loop – seker in sy geloof al dreig probleme. Hy kyk neer op sy vyande – hy sien verder in die bedoeling van God se liefde en beloftes as wat hulle doen. Daarom gaan hy op sy lewenspad met ‘n lied in sy hart.

In die volgende gedeelte kry ons ‘n ommekeer – van vertroue na dringende gebed.

 

 

image_pdfimage_print