Psalm 29 (3)

image_pdfimage_print

 

If a man were set before the choice either of dying or of living his past life over, it is certain that he would choose to die, seeing the many perils and evils which he had so hardly escaped – Augustinus.

 

Psalm 29 (3)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Teologiese Implikasies

In hierdie psalm kry ons ‘n uitdaging maar ook bemoediging vir aanbidders. Dit bevestig dat die mag van die Here so groot is dat ander hemelinge dit erken. Dit het reeds voor die skepping gebeur, maar as daar enige twyfel bestaan of dit wel so is, verdryf die getuienis van die natuur dit. Die krag van gebeure, soos donderstorms, bevestig hierdie krag. As Israel dink dat ander gode sterker as die Here is, moet hulle hierdie versoeking weerstaan. Hierdie gode self het reeds gereageer en die krag van die Here erken. Hy is die enigste ware God. Al lyk dit of die gode van ander mense Israel kan oorwin, is dit nie so nie.

 

Wat sê hierdie psalm vir my?

Die Here het deur die eeue heen al dikwels sy mag in groot natuurwonders en –gebeure geopenbaar. Hy belowe om dit nog steeds te doen. Dieselfde mag wat Christus uit die dood gewek het, is vandag steeds tot die beskikking van elke gelowige. As ek swak of ontoereikend voel, moet ek onthou dat God vir my krag kan gee.  Die krag wat die skepping beheer en dooies laat opstaan, is ook tot my beskikking.

 

Ek wil so graag die natuur met my verstand verklaar.  Die psalm verkondig:

  • God is koning van die ganse aarde. Hy was koning van die skepping af; Hy sal koning bly vir altyd.
  • Ek moet aan hierdie koning al die eer gee wat Hom toekom – dit is ‘n opdrag. As dit geld vir die engele, geld dit net soveel vir my.
  • Hierdie koning sal my nooit in die steek laat nie – dit is ‘n versekering. As ek swak is, sal Hy krag gee; as ek gebrek ly, sal Hy seën met wat nodig is.

Oor hierdie wonder kan ek net juig. Ek moet saam met die natuur die koningskap van God verkondig. Ek moet saam met die engele sy eer, sy mag en sy Naam prys.

 

 

 

image_pdfimage_print