Tevredenheid nie afhanklik van omstandighede nie (1)

image_pdfimage_print

 

Each step of love is like a candle burning in the night. It doesn’t take the darkness away, but it guides us through the darkness – Henri Nouwen

 

Tevredenheid nie afhanklik van omstandighede nie (1)

Ek gaan ‘n aantal blogs aan Tim Keller se nuwe boek Making Sense of God: An Invitation to the Skeptical spandeer. Hy wys dat die Christelike geloof in alle opsigte – emosioneel, kultureel en rasioneel – meer sin maak as die siening van ons moderne wêreld.

 

Die Prediker beskryf ‘n lewe waartydens hy baie bereik het: Ek het groot ondernemings aangepak: ek het vir my huise gebou en wingerde geplant … Ek het vir my silwer en goud opgegaar wat ek gekry het van konings en provinsies. Ek het vir my sangers en sangeresse gewerf, talle mooi meisies met wie ek die lewe kon geniet … Alles wat ek begeer het, het ek my veroorloof; ek het my geen plesier ontsê nie (Prediker 2:4, 8, 10). Tog sê hy: Ek het die lewe gehaat … Ek het in vertwyfeling geraak oor alles waarmee ek my met soveel sorg in hierdie wêreld besig gehou het (Prediker 2:17, 20). Die Prediker stry nie net teen die vrees van sinloosheid nie, maar ook met die teleurstelling van sukses. Niks bring vir hom tevredenheid nie.

 

Hierdie is ‘n algemene menslike probleem. Navorsing bevind dat daar ‘n baie swak korrelasie tussen rykdom en tevredenheid is. Hoe meer voorspoedig ons samelewing word, hoe meer algemeen word depressie. Die dinge wat die mens dink vervulling sal bring, doen dit nie. Die eksterne dinge van hierdie wêreld – rykdom, mag, sukses, familie en sekerheid – lei net tot tydelike tevredenheid. Dit vervaag vinnig en laat ‘n mens leër as vantevore.

 

Ons moderne kultuur moedig mense aan om tevredenheid te soek deur aktiewe pogings om hulle lewe te verander – ons moenie die lewe aanvaar soos dit is nie. Geen wonder die Prediker sê: Wat is, was reeds. Wat kom, was ook alreeds. God laat weer gebeur wat vroeër gebeur het (3:15). Ons is maar weer terug waar ons vroeër was. Ons sukkel steeds met vreugde, vervulling en tevredenheid in ons lewens. Daar is altyd iets wat nie daar is nie.

 

Die vraag is: As ons uitvind dat daar iets skort, wat kan ons daaraan doen? Daarna gaan ons in die volgende blog kyk.

 

 

image_pdfimage_print