Verslawing (2)

image_pdfimage_print

Verslawing (2) – Francois Malan

Liza vra:

 

Dit is opmerklik dat drank as verslawing die botoon voer in die Bybelse tyd. Moet ons dan aanneem dat die ander verslawings wat nou met ons is, nuwe tydse verslawings is waarvan hulle daardie tyd nie geweet het nie?

Ons wil egter aan die vergadering die positiewe kant ook wys: dat daar in die Bybel baie “dinge / gewoontes / Kenmerke ” is waaraan ‘n mens MAG verslaaf raak. Amper om iets in die plek van die slegte gewoonte te plaas (dit met ‘n positiewe te vervang).

Waaraan volgens die Bybel Mag ons verslaaf raak?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die gebruik en misbruik van opium (van papawers gemaak) en dagga van die daggaplant was eeue voor die Bybelse tyd reeds bekend in die Ooste, Midde-Ooste, Egipte, ens. Maar ons moderne dwelmmiddels word vervaardig met ingewikkelde chemiese prosesse, en was seker nie so bekend nie. Hoewel die Engelse woord ‘pharmacy’ kom van die Griekse woord farmakeia of farmakon wat verwys na toordery wat dwelms gebruik saam met towerspreuke. Paulus gebruik die woord in Gal.5:20 wat met ‘towery’ vertaal is; vgl. Openb. 9:21 ‘towery’; 18:23 ‘bedrog’ Engels sorcery; vgl. Openb 21:8 ‘bedrieërs’ Engels sorcerers, 22:15 ‘bedrieërs’ Eng. sorcerers.

Die woorde word ook in die Griekse vertaling van die Ou Testament gebruik in Eks 7:11 vir die Egiptiese towenaars (vgl. Deutr.18:10; 2 Kon.9:22 van Isebel; 2 Kron. 33:6 een van Manasse se sondes;  Jes.47:9,12 toordery; Miga 5:12 toorgoed; Neh.3:4 toorkunste).

Ander woorde wat vir toordery in die Nuwe Testament gebruik word is mageia (Engelse  magic) waar bo-natuurlike kragte ingeroep word (Hand.8:9; 13:6,8 – ook vir die wyses uit die Ooste in Mat 2:1,7,16), of periergos wat gebou is op bygeloof (Hand.19:13,19).

Toe die soldate vir Jesus wyn met mirre daarin wou gee, het Hy dit geweier (Mark 15:23; Mat.27:24 praat van gal om die bitterheid van die mengsel aan te dui). Die mengsel was bedoel om die pyn te verdoof, ‘n dwelmmiddel.

Paulus beroem hom daarop dat hy ‘n slaaf (doulos) van Christus is (Rom 1:1; Gal 1:10; Filp. 1:1; Titus 1:1) en ‘n slaaf van die gemeente ter wille van Jesus (2 Kor 4:5). In Efes.6:6 moedig hy die Christen slawe aan om te werk soos slawe van Christus wat van harte die wil van God doen. In Flp 2:7 verwys hy na Christus wat Homself verneder het om die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word (in ‘n hele aantal van die plekke vertaal die 1983 vertaling doulos met dienskneg).

In Romeine 6:16-22 gebruik Paulus die metafoor van ‘n slaaf: óf slaaf van die sonde wat na die dood lei, óf slaaf van gehoorsaamheid aan God wat regverdiging en lewe beteken (NAV vertaal regverdiging met vryspraak. Die woord regverdiging het saam met die gedagte van vryspraak ‘n nog meer omvattende betekenis van jou verhouding met God, wat deur Hom reggemaak is deur die dood van Jesus vir ons sonde, sodat ons kinders van God kan wees). Vrygemaak van die sonde het ons slawe van God geword (letterlik: slawe van geregtigheid – in die nuwe reggestelde verhouding met God). Vers 19-22 se ‘in diens stel van’ is ‘n vertaling van die begrip ‘slaaf wees van’ – of jou liggaam in diens stel van sedelike onreinheid en wetteloosheid, so moet elke deel van ons liggaam nou gestel word (slaaf word) van God (letterlik: van geregtigheid, die nuwe verhouding met God) om heilig te lewe – dit beteken om aan God toegewy te lewe; dit loop uit op die ewige lewe.

Hoe dit moontlik is word in Romeine 8 uitgespel, deurdat God self in ons kom woon as die Heilige Gees wat ons tot geloof oortuig, ons daagliks lei en versterk om soos kinders van God te lewe, deur ons aan Jesus se dood en opstanding te verbind. 2 Kor. 3:17-18 sê die Gees is besig om ons al meer soos Christus te laat optree.

Daarom sê Efes. 5:18 ons moet ons nie aan drank te buite gaan nie, maar ons deur die Gees te laat vervul. In Efes. 3:14-19 bid Paulus dat die gemeentes deur die Gees versterk word met liefde, met Christus in ons, dat ons lewe soos ‘n boom in liefde gewortel en soos ‘n gebou op liefde gegrondves sal word, dat ons Christus se liefde mag ken, en dat die Gees ons met die volheid van God se liefde sal vervul. Dit is ‘n liefdesverslawing aan die Vader, Seun en Gees, deurdat ons daartoe ‘n wilsbesluit neem om God se slawe te wees wat, uit liefde, Hom in alles gehoorsaam. Omdat ons in God se liefde gewortel en gegrond is moet ons ook besluit om met mekaar in liefde te leef. Jesus sê selfs ons moet ons vyande liefhê. Dan sal ons soos kinders van ons Vader leef (Mat 5:43-48). Want God is liefde. Liefde is die verhouding tussen die Vader en die Seun en die Heilige Gees. Liefde is die eenheidsband tussen hulle, en daarin wil hulle ons opneem, ons daarin wortel en grond. Daarom moet ons as sy kinders mekaar ook liefhê (1 Joh 4:7-21; vgl. Jesus se gebed in Joh.17:20-23).

Ons moet slawe word van God; verslaaf om Hom in alles te gehoorsaam, en dit uit liefde en dankbaarheid vir sy genade (Joh 1:16 sê: Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang); ook uit dankbaarheid vir sy daaglikse sorg en leiding. Jesus het God se wil en wet opgesom: die eerste gebod is om God lief te hê met ons hele hart en siel en met ons hele verstand; daarmee gelykstaande: om jou naaste lief te hê soos jouself (Mat 22:37-40; vgl. Flp 2:1-5).


SkrywerProf Francois Malan

image_pdfimage_print