Wag geduldig

image_pdfimage_print

 

For the inexperience of youth requires the practical wisdom of age to strengthen and direct it – Cicero

 

 

Wag geduldig

Ons wag in ‘n tou; ons wag in die verkeer; so kan ons aanhou. Maar die moderne kultuur hou nie daarvan om te wag nie. Dit is kitskos en kitskoffie.

 

Ons perspektief op wag is een van die maniere waar ons samelewing van die Bybelse wêreldsiening verskil. Luister na die psalmis: Ek het die Here lank verwag, en Hy het Hom na my toe neergebuig en my hulpgeroep gehoor (40:2 – OAV). Luister ook na Jesaja se belofte: Maar die wat op die Here wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vlerke soos die arende; hulle hardloop en word nie mat nie, hulle wandel en word nie moeg nie (40:31 –OAV).

Wag op die Here is ‘n refrein wat dwarsdeur die geloofslewe loop. Na jare se wag op die Messias sou ons kon dink dat die wag nou verby is met Jesus se koms. Nee, ons wag steeds, want ons leef in die skadu van Jesus se wederkoms. Julle bly ook vol verwagting uitsien na die verskyning van ons Here Jesus Christus (1 Korintiërs 1:7).

 

Geduld is ‘n deug. Die eerste ding wat Paulus oor die liefde in 1 Korintiërs besing, is: Die liefde is geduldig. Maar geduld is maar skaars by ons moderne mense. Geduld is die metgesel van nederigheid en die vyand van trots: Geduld is beter as hoogmoed (Prediker 7:8). Dit is ‘n vrug van die Gees.

 

Hoe kan ek geduld kweek?

  • Hernu geloof en hoop

Sodra jy voel dat jy ongeduldig word, is dit ‘n herinnering om jou na God te draai. Moenie op jouself vertrou nie, maar fokus op God. In God se ekonomie is wag nie ‘n vermorsing nie. Deur te wag, maak God ons bewus van ons ongeduld. Dan werk Hy in ons om ons te red van vertroue op onsself – Hy gee weer lewe aan ons hoop en geloof in Hom. Geloof en geduld loop saam – geloof vir nou en hoop vir die toekoms.

 

  • Bid en dank

Verbly julle in die hoop; staan vas in verdrukking; volhard in gebed (Romeine 12:12). Na die oproep om vas te staan in verdrukking – geduldig te wees – volg die oproep om te bid. Gebed maak jou oë oop om die geleenthede te sien in periodes van wag. Maar Paulus koppel ook geduld aan blydskap en dank: Mag God deur sy wonderbare krag julle alle sterkte gee om in alle omstandighede geduldig te volhard. Met blydskap moet julle die Vader dank wat julle geskik gemaak het om deel te hê aan die erfenis wat vir die gelowiges wag in die ryk van die lig (Kolossense 1:11 – 12).

 

  • Onthou die geduld van God

Ons is alles verskuldig aan God se genade en geduld. God was geduldig toe die eerste mense gesondig het; Hy was geduldig met Noag, Abraham en Israel. Maar juis daarom was God my genadig sodat Christus Jesus aan my, as die grootste sondaar, al sy verdraagsaamheid sou betoon en ek ‘n voorbeeld kon wees vir almal wat in die toekoms in Hom sou glo om die ewige lewe te verkry (1 Timoteus 1:16).

 

Wag is nie sleg vir die gelowige nie. Die onwelkome wagtye in ons lewens is geleenthede om God te verwelkom – om weer ons hart in Hom te vernuwe.

 

image_pdfimage_print