Die Openbaring aan Johannes – Die sesde en sewende engel (16:12-21) – Francois Malan

image_pdfimage_print

16:12-14 Die sesde bak word oor die groot Eufraatrivier uitgegooi (die woord ‘groot’ word elf keer in hoofstuk 16 gebruik om die grootheid van die stryd van God se magte teen die dier se mag te beklemtoon). In Openbaring word die groot Eufraatrivier verbind met die groot stad Babilon, ‘n bedreiging wat vernietiging bring, teenoor die rivier van lewende water wat uit die nuwe Jerusalem vloei om lewe te gee aan plante en mense (22:1). Die rivier se water droog op om ‘n pad te maak vir die konings uit die ooste (letterlik: vanaf die opkomende son), om saam met die konings van die hele bewoonde wêreld oorlog te maak op die groot dag van God, die Allerhoogste. Die agtergrond van die gesig is die totale vernietiging van die vyandige leërs van Gog van die land Magog teen Jerusalem (Op 20:8-10; Eseg 38-39; vgl. 38:4-7; 18-23).

Drie onrein geeste wat soos paddas lyk, kom uit die mond van die demoniese trio: (i) die draak (van hoofstuk 12), (ii) van die dier uit die see (van hoofstuk 13a) en (iii) van die vals profeet, wat dieselfde is as die dier uit die aarde (van hoofstuk 13b) wat wondertekens doen om mense te verlei om die vals Christus, nl. die dier uit die see se beeld te aanbid en hulle verplig om die dier uit die see se merk te dra (vgl 19:20; 20:10). Openbaring beskryf met die padda-beelde die antichristelike propaganda wat die nasies opsweep om teen die gelowiges op te trek, deur hulle te vang, sodat boosheid vir hulle lyk asof dit goed is, en dat ‘n visie van Bo af nodig is om te onderskei tussen kwaad en goed, reg en verkeerd in die oë van God.

Vir Johannes word iemand se karakter deur sy mond geopenbaar. Uit Christus se mond kom ‘n flymskerp swaard om te beskyf hoe Hy met sy woorde oorwin (1:16; 19:15). Uit die draak se mond kom ‘n stroom van vernietiging (12:15). Uit die mond van die dier uit die see kom grootpraterige en lasterlike dinge (13:5), die vals profeet/die dier uit die aarde kom praat soos die draak (13:11). In 16:13-14 kom onrein geeste uit dié drie nagemaakte gode se monde waardeur hulle sataniese natuur geopenbaar word. Die onrein geeste soos paddas gaan na die konings van die hele aarde om hulle met wondertekens bymekaar te maak vir die oorlog op die groot dag van die Almagtige God se oorwinnng.

16:16 Op Johannes se geestelike wêreldkaart vind die oorlog plaas by Armageddon, die Hebreeuse har Megiddo (berg Megiddo in die Gilboa-bergreeks aan die noorde van die Jisreëlvlakte). Dit is die plek van baie oorloë in die geskiedenis van die Israeliete. Hier het Debora vir Sisera en sy Kanaäniete verower (Rigt 5:19; vgl. 1 Sam 31 waar Saul gesterf het; 2 Kon 9:17 waar Ahasia van Juda gesterf het; 2 Kron 35:22 waar Josia dodelik gewond is. Die laaste verwysing na die Megiddo-vlakte in die OT is Sag 12:11 waar getreur is oor die dood van die hervormer koning Josia uit die huis van Dawid).

Die berg is die plek vir die stryd tussen die hemel en die aarde. Die berg Megiddo is simbolies die plek vir die stryd tussen goed en kwaad, God en Satan, Christus en die nage-aapte christus; die simboliese plek vir die laaste weerstand van die magte van die anti-god teen die koninkryk van Christus. Maar die stryd word nie in hoofstuk 16 beskryf nie, want die groot veldslag is alreeds beslissend gewen aan die kruis.

16:15 Hier is ‘n onderbreking van die verhaal, wat die skielikheid van die einde van die normale verloop van sake aandui: Jesus se wederkoms is onverwags en sal alles skielik onderbreek, soos ‘n dief in die nag (Op 3:3; Mt 24:42-44; 1 Ts 5:2-4; 2 Pt 3:10). Hierdie derde van die sewe saligsprekings beklemtoon die noodsaklikheid van geestelike waaksaamheid. Die een wat geestelik wakker bly en geklee is, is geseënd. Die uiterlike klere reflekteer die innerlike stand. Om naak te wees is om blootgestel te wees aan die skande van geestelike onvoorbereidheid; om geklee te wees beteken om gereed te wees vir die onverwagte einde of versoeking of bedreiging, en die lot van Babilon vry te spring (17:16; vgl. die Laodisense in 3:17-18, Sardis in 3:4-5; die gelykenis van die tien meisies in Mt 25:13). Die onverwagse einde vereis gereedheid en waaksaamheid wat gesimboliseer word deur klere aantrek, en die verleiding van die bose en kompromieë te ignoreer en te weerstaan (vgl. die oproep tot Sardis, 3:5; Loadisea, 3:18). Dit is ‘n persoonlike stryd: ‘die een wat wakkerbly,’ sal ‘sy/haar klere byderhand hou,’ ‘hy/sy sal nie naak rondloop nie,’ dit is sy/haar skaamte.’

16:17 Met die uitgooi van die sewende engel se bak met natuurrampe is daar ‘n groot stem uit die hemel van die troon se kant af – waarskynlik die stem van God: Dit is afgehandel! (letterlik: ‘dit het gebeur!’). Die plan van verlossing en oordeel is afgehandel. Die uitspraak ‘dit het gebeur’ kom vyf maal voor in 16:18-19a – wat die verband tussen God se stem en die kosmiese katastrofe beklemtoon.

16:18 Die ander eggo’s van die Sinai-gebeure (Eks 19:16-19; 20:18) in Op 4:5 voor die troon, in 8:5 uit die altaar se vuur, 11:19 uit die tempel, kan nie vergelyk word met hierdie finale kosmiese ontwrigting nie, ‘n vernietigende aardbewing soos wat nog nie plaasgevind het sedert daar mense op die aarde was nie.

16:19 Die simboliese stad wat teen God opstaan, het in drie stukke uitmekaar geval en die stede van die nasies het ineengetuimel. Die drie gesamentlike magte teen God, die godsdienstige mag (draak), die politieke mag (dier uit die see), die sosio-ekonomiese mag (draak uit die aarde) val uitmekaar. God gee aan Babilon die beker met die wyn van sy gloeiende toorn. Sy moet tweemaal soveel drink as wat sy ingeskink het (18:6).

16:20 Ander ankers word ook ontwortel: die toonbeelde van standvastigheid, eilande en berge, is nie meer nie: elke eiland verdwyn in die niet en berge is nie meer te vind nie.

16:21 Haelstene ‘n talent swaar (ongeveer 25.2 kilogram) reën op die mense wat weier om hulle tot God te keer (vgl. die sewende plaag in Egipte, Eks 9:23-25). Hulle laster God oor die haelplaag – soek die fout by God en nie by hulleself nie. Ten spyte van die geweldige ontwrigting in die natuur bly hulle hardkoppig, soos die farao (Eks 9:34-35). Hierdie sewende is die beslissende plaag voordat God se volk toegelaat word om te trek, op die nuwe eksodus.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 

image_pdfimage_print

You may also like...