Dissipelskap: Net vir super-Christene? (1)

image_pdfimage_print

“The desperate need today is not for a greater number of intelligent people, or gifted people, but for deep people.” Richard Foster said,

Dissipelskap: Net vir super-Christene? (1)

Ons kry die woord dissipel 269 keer in die Nuwe Testament en die woord Christen drie maal. In Antiogië is die gelowiges die eerste keer Christene genoem (Handelinge 11:26). Die Nuwe Testament is ‘n boek oor dissipels deur dissipels en vir dissipels van Jesus Christus.

 

Dit gaan nie net oor woorde nie. As ons kyk na die soort lewe in die vroeë kerk sien ons dit is die lewe van ‘n spesiale soort persoon. Al die versekerings en voordele waarvan ons in die evangelies lees, veronderstel so ‘n soort lewe. Die dissipel van Christus is nie die deluxe model Christen nie. In die Nuwe Testament is hy die eerste vlak in die koninkryk van God

Gemeentes vereis nie meer dissipelskap as voorwaarde om ‘n Christen te wees nie. Jy kan ‘n Christen wees sonder enige tekens van vooruitgang na dissipelskap. Gemeentes vereis nie meer dat lidmate Christus se voorbeeld moet navolg nie. Dissipelskap is opsioneel. Na ‘n leeftyd in die gemeente hoef jy nie ‘n dissipel te wees nie.

In The Lost Art of  Discipleship word die Christelike lewe op drie moontlike vlakke beskryf: die bekeerling, die dissipel en die werker. Evangelisasie produseer bekeerlinge; opvolg produseer dissipels; toerusting produseer werkers. Net werkers kan dissipels maak. Hierdie stem ooreen met die algemene praktyk in ons kerke. Die probleem: dit maak dissipelskap opsioneel. Geen wonder baie bekeerlinge oefen die keuse uit om nie dissipels van Christus te word nie. Die probleme in vandag se gemeentes is dat lidmate nog nie besluit het om Christus te volg nie.

Maar in die Groot Opdrag wat Jesus vir sy kerk gelaat het, kry ons ‘n ander model. Die eerste doelwit wat Hy vir sy kerk stel, is: Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels (Matteus 28:19). Daarna word hierdie dissipels  in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees gedoop. Met hierdie tweevoudige voorbereiding word hulle geleer om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.  Hierdie was die vroeë kerk se plan vir kerkgroei. Met hulle resultate kan jy nie stry nie.

Maar wat het ons met hierdie opdrag van Jesus gedoen? Daarna kyk ons volgende keer.

image_pdfimage_print

You may also like...