Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Regering en Samelewing (6) – JP Louw

image_pdfimage_print

Die Romeinse Ryk

Die Romeinse Ryk was ‘n baie belangrike instelling wat die regering en samelewing in die tyd van die Nuwe Testament oorheers het. Die geboorte van Jesus word in Lukas 2:1 ingelei met die vermelding dat keiser Augustus ‘n bevel gegee het dat ‘n sensus (of volkstelling) gehou moes word. Rome self het met Augustus ‘n nuwe periode begin. Vir eeue was die Romeinse ryk ‘n republiek wat deur ‘n senaat regeer is-‘n soort parlement dus. Soos die ryk uitgebrei het, veral deur oorlog, het leërowerstes uiteraard baie mag en invloed gekry en eindelik van die magtigste figure in die Romeinse samelewing geword. Kort voor die koms van Jesus het veral drie militêre leiers die Romeinse lewe oorheers: Pompeius (wat verantwoordelik was daarvoor dat die Jode onder Romeinse bewind ingebring is), Crassus en Julius Caesar. Dit was onvermydelik dat dit eindelik tot botsing en stryd sou lei. Julius Caesar het die mededinging gewen en voor sy dood bepaal dat sy neef Octavius hom sou opvolg. Dit het nog ‘n stryd tot gevolg gehad tussen dié wat ‘n republiek en regering deur die senaat voorgestaan het en Julius Caesar se moord bewerk het, en aan die anderkant ondersteuners van ‘n keisergedagte wat Julius Caesar en dus Octavius, ondersteun het. Octavius het eindelik die oorhand gekry en die senaat het in 27 v. C. aan horn die titel Augustus gegee.

Roemeinseryk

Om die. groot Romeinse ryk te regeer is ooreen­gekom dat die keiser, Augustus dus, veral toesig sou hou oor die gebiede waar daar onrus was onder die plaaslike bevolking, of ‘n bedreiging ontwikkel het om Rome of sy areas aan te val. Hierdie plan het horn voorgedoen omdat Octavius die leër beheer het. Die keiser het die leër en landstreke deur middel van goewerneurs regeer. Lukas 2:2 meld Sirenius as goewerneur van Sirië waarvan Palestina die grootste deel uitgemaak het. Die naam Palestina is nie deur die Romeine as sodanig gebruik nie. Die hele gebied vanaf Antiogië in die noorde tot by die Arabiese woestyn suid van die Dooie See was die Romeinse provinsie Sirië. Wanneer kleiner areas betrokke was, het ‘n procurator of stadhouer die goewerneur bygestaan. So was Pontius Pilatus deur keiser Tiberius as stadhouer van die provinsie Judea in ongeveer 26 n. C. aangestel en dus was by in Jerusalem, hoofstad van Judea, die Romeinse bevelvoerder ten tye van Jesus se verhoor. Die hele gebied bekend as Sirië het die stad Sesarea Mari­tima, in die provinsie Samaria aan die Middellandse See, as Romeinse hoofstad gehad. Judea was die provinsie suid van Samaria. Die hele Sirië was direk aan die keiser verantwoordelik omdat dit bekend was as ‘n oproerige gebied en omdat die Partiërs aan die oostelike grense van Romeinse ryk, ver oos van Palestina, (Sirië dus), altyd ‘n probleemarea en bedreiging vir die Romeine was.

Wanneer daar in ‘n Romeinse verowerde gebied ‘n tradisionele koning was, het die Romeine nie so ‘n koning summier afgesit of verban nie, maar ­indien hy natuurlik met die Romeine wou saam­werk en na hulle pype wou dans hom gebruik as ‘n demper en skyn van onafhanklikheid, maar ook as informant en lakei. Herodes die Grote het vanaf 40 v.C. tot 4 v.C., as so ‘n koning regeer. Die hele Palestina was onder sy beheer en hy was die een wat die kindermoord in Betlehem gepleeg het (Matteus 2:16). Kort hierna is hy dood. Sy gebied is toe deur die Romeine onder drie van sy seuns (Antipas, Filippus en Argelaos) verdeel. In die Nuwe Testament lees ons van Antipas wat Johan­nes die Doper onthoof het en wat in Matteus 14:1 en Markus 6:14 Herodes genoem word, maar ons lees ook van Filippus (Lukas 3:1) en van Argelaos (Matteus 2:22). Dit is baie belangrik om daarop te let dat die eerste man van Herodias (Markus 6:17 en Lukas 3:19) ‘n ander broer as die Filippus van Lukas 3:1 was, want hierdie eerste man van Herodias is nooit in die Nuwe Testament en in ander ou bronne “heerser” genoem nie. Daar was dus twee broers met die naam Filippus, seuns van verskil­lende moeders. Argelaos is later deur die Romeine vervang met ‘n reeks stadhouers. Pontius Pilatus was die vyfde stadhouer (26-36 n.C.). Antipas was die Herodes na wie Pilatus vir Jesus gestuur het omdat Antipas oor die provinsie Galilea regeer het (Lukas 23:67). Later het hy in onguns by die Romeine geraak en is hy verban.

In Handelinge 12:1 lees ons van nog ‘n ander Herodes. Sy naam was Agrippa, dikwels genoem Agrippa I of Herodes Agrippa I. Hierdie Herodes het Jakobus gedood en Petrus in die gevangenis gesit om in guns by die Jode te wees (Handelinge 12:1-3). Hy het horn in sy grootdoenerigheid goddelike eer laat welgeval waaroor hy deur ‘n engel van die Here getref is sodat hy deur wurms verteer is en gesterf het (Handelinge 12:21-23).

In Handelinge 25 vind ons weer die naam Agrippa vir die seun van Herodes Agrippa I, ook genoem Herodes Agrippa II. Waar sy vader, wat in groot guns was by die Romeine, die eertydse ryk van Herodes die Grote as’t ware teruggekry het, is sy seun Agrippa II net oor die noordelike deel van Palestina aangestel. Die ander dele het die Romeine weer deur ‘n goewerneur laat regeer, naamlik Fe­liks (Handelinge 24:2, 24-26) wat later deur Festus opgevolg is (Handelinge 24:27). In Handelinge 25:13-26:32 lees ons hoe Herodes Agrippa II en Festus saam Paulus se saak hanteer het wat uitge­loop het op Paulus se uiteindelike verblyf in Rome (Handelinge 28:16-31).

In Filippi, ‘n ander Romeinse provinsie in Mase­donië (Handelinge 16:12) waar dit rustiger gegaan het as in Palestina, het twee prokonsuls as stadsbe­stuurders regeer. Hulle was direk aan die Romeinse senaat verantwoordelik. Daarom het hulle groot geskrik (Handelinge 16:38) toe hulle agterkom dat hulle Paulus en Silas, wat self Romeinse burgerskap besit het, laat slaan en in die tronk gesit het sonder verhoor. Dit gee ons ook ‘n beeld van die benarde posisie van mense wat nie burgerskap gehad het nie.

In Handelinge 19 vind ons Paulus in Efese in n opskudding betrokke wat Demetrius die silwersmid veroorsaak het. Hier lees ons van ‘n stadsklerk wat die skare tot bedaring gebring het (Handelinge 19:35) en die mense aangeraai het om ordelik na die regters te gaan om hulle griewe te besleg. Die regters was waarskynlik die prokonsuls wat oor die provinsie Asië (Handelinge 19:22), waarin Efese n stad was, regeer het.

Stede van groot belang, soos Athene, is deur die Romeine toegelaat om hulleself te regeer solank daar vrede bewaar is. So ‘n stad was meestal ook van belasting vrygestel wat ‘n slim gebruik van die Romeine was om groot sentra se guns te koop. In Athene was daar ‘n Raad wat net soos die Sanhe­drin in Jerusalem sekere magte gehad het. Die Raad was bekend as die Areopagus en voor hulle het Paulus (Handelinge 17:19) sy leer verkondig en verdedig. Die Romeine het hulle nie baie gesteur aan ‘n plaaslike area se sosiale en godsdienstige opvattings en gebruike nie-solank alles net rustig bly. Dit is nie seker waar die Areopagus vergader het nie. Die markplein in die noordweste van Athene was die aangewese plek. Net langs die mark is daar ‘n groot kalksteenrots wat tradisioneel as die vergaderplek van die Areopagus uitgewys word en vandag ‘n groot toeriste-aantreklikheid is. Die rots se naam beteken “heuwel van Ares” en in die ou Griekse periode het die Griekse Raad dikwels op die heuwel vergader en het waarskynlik so sy naam gekry, maar hulle het ook in die markplek verga­der. In die Romeinse tyd het hulle hoofsaaklik morele en godsdienstige kwessies aangehoor, maar hulle het nie gesag gehad om enige straf uit te deel nie. Dit is onmoontlik om te weet of Paulus deur die Areopagus op die kliprots of in die markplek aangehoor is. Handelinge 17:34 toon duidelik dat die woord Areopagus na die Raad verwys. In verse 19 en 22 egter kan dit die rots of die Raad wees. As dit na die Raad verwys kon Paulus se toespraak goed moontlik in die Raad se vergaderplek op die mark plaasgevind het.

Al het die Romeinse oorheersing van so ‘n groot deel van die antieke wêreld vir baie volke ‘n swaar juk opgelê, het dit ook ander voordele gehad. Dit het veral relatiewe vrede gebring sodat kleiner volke mekaar nie aanhoudend beleër het nie. Die Romeinse oorheersing het veral reise makliker ge­maak deur rowery te beheer en beter paaie te voorsien. Dit is egter ook waar dat die Romeine enige teken van verset teen Rome of ‘n godsdiens­tige optog wat vir die Romeine “gevaarlik” vir die rus en vrede gelyk het, wreed onderdruk het. Maar hulle het ook oordaad gestraf. So is Pilatus byvoor­beeld teruggeroep Rome toe nadat by op ‘n gods­dienstige byeenkoms in Samaria toegeslaan het. Pilatus en die Jode het nie goed oor die weg gekom nie. Toe Pilatus ‘n aantal goue skilde in Jerusalem in Herodes se paleis ter ere van die keiser opgerig het, kon die Jode daarin slaag om die keiser te laat beveel om dit na Sesarea te verskuif. Pilatus was dus versigtig om nie te ver teen die Jode te gaan toe hulle hom weer met Jesus se verhoor met die keiser gedreig het nie.

Die Romeinse oorheersing van die antieke wê­reld het ook meegebring dat ‘n groot ryk meer geboue en dienste kon lewer-veral waterwerke. Romeinse burgerskap is aan baie nie-Romeine ver­leen en het die alledaagse lewe vergemaklik al moes baie dit met geld koop wat die Romeine se koffers gevul het (Handelinge 22:27-28).

Skrywer:  Prof JP Louw

 

image_pdfimage_print

You may also like...