Geldelike beloning in die Here se diens

image_pdfimage_print

Geldelike beloning in die Here se diens – Stephan Joubert

  1. Loon as geestelike gawe

Die motief van loon moet eerstens binne die konteks van die verlossingsleer van die Bybel geplaas word aangesien sekere beginsels wat hier ter tafel kom relevant is t.o.v. die beginsels rakende die materiële versorging van geestelike werkers.

Veral in die Ou Testament geld die opvatting plek-plek dat goeie dade van die regverdiges beloon sal word op die dag van die Here. In die Nuwe Testament verskuif die klem na die ewige lewe as vrye gawe wat onverdiend aan gelowiges deur God geskenk word. Wanneer loon wel gebruik word, word dit nooit los van Christus se verlossende sterwe hanteer nie. Twee voorbeelde uit die Nuwe Testament is hier ter sake:

 

a. Matteus

Telkens word daar in Matteus melding gemaak van “beloning” – Die “saligspreuke” (5:3-12) veronderstel bv. Goddelike erkenning en loon aan Jesus se volgelinge (“misthos“); so ook die regte onderhouding van die wet (5:19); die regte beoefening van godsdienstige gebruike soos vas, gebed en die versorging van armes (6:1-18); die ontvangs van God se profete (10:40-42); die twaalf dissipels se ewige loon (19:27-29); die plekke aan Jesus se linker- en regterkant (20:23) en die regte gebruik van die talente (25:14-30). Tog ontknoop Jesus die vraag na die aard van hierdie loon aan die einde van die evangelie as Hy in 19:27 sê dat die ewige lewe die loon vir sy aardse werkers is. Jesus se gelykenis in Matteus 20:1-15 oor die arbeiders wat op verskillende tye gehuur word, maak die punt selfs nog duideliker dat die rolle by God omruil op die laaste dag (vgl. die beeld van die eerstes wat laaste sal wees in Matt 19:30 en 20:16). God se “loon werk anders as menslike konsepte daarvan. God betaal nie die meeste aan dié wat die langste of hardste gewerk het nie. Almal wat in sy wingerd hier op aarde werk gewerk het ontvang dieselfde loon – die ewige lewe.

 

b. Paulus

By Paulus funksioneer die motief van die beloning van geestelike leiers se arbeid op ‘n paar plekke. Die bekendste teks in dié verband is 1 Korintiërs 3, waar Paulus aandag gee aan die beloning van geestelike leiers se aardse bouwerk. Eerstens maak hy dit duidelik dat hyself en Apollos planters en natgooiers is van die Goddelike saad  (= die evangelie!), maar dat dit God is wat die groei én beloning gee (vers 5-8). “Misthos” die Griekse woord vir die dagloon of salaris hier in vers 8, word deur God gegee. God alleen bepaal die aard van die werk, asook die gepaste erkenning hiervoor. Daarom dat geestelike werkers uiteindelik net aan God verantwoordelik is vir suksesse en mislukkings in hul bediening. Anthony Thiselton (2000:304) stel dit as volg: “Misthos becomes an indication of worth. Stipends accorded by the church do not indicate this worth, against the assumptions of a consumer driven world. God knows what they are worth in the work of the kingdom, and the matter must be left in God’s hand for God’s final verdict.”

Ander geestelike leiers bou volgens 1 Korintiërs 12:10-15 verder voort op die fondament wat Paulus gelê het (vers 10). Paulus praat dus hier primêr met Christelike werkers as diegene wat oor die gawes van opbou en toerusting beskik binne die koninkryk van God (Ef 4; 1 Kor 12-14). Gelowiges is die gebou waaraan hulle bou (vers 9). Die fondament van hierdie gebou is Christus (vers 11). Geestelike werkers moet seker maak dat hulle vuurvaste boumateriaal gebruik. Verkeerde boumateriaal soos hout, hooi en stoppels sal verbrand word wanneer hulle bouwerk op die laaste dag geïnspekteer word deur God (vers 13; 15). Met ander woorde, die aard, egtheid, kwaliteit en geestelike motivering vir die bouwerk van Christelike werkers sal eers op die dag van die Here aan die lig kom.

Tot en met die wederkoms is alle menslike evaluering van geestelike werk voorlopig, onvolledig en gebrekkig. Net God beskik oor die regte meetinstrumente. Hy alleen sal beslis oor geestelike bouwerk op die laaste dag (vers 13-15). Tog weet gelowiges dat die Here, voor wie se regterstoel ons almal moet verskyn (2 Kor 5:10), die Een is wat ons splinternuwe mense gemaak het op grond van ons geloof in Christus (2 Kor 5:17).

 

II. Materiële loon vir geestelike werk

A. Basiese beginsels rakende geestelike werkers se arbeid

a. Hardwerkendheid. Paulus dien in hierdie verband self as voorbeeld. Hy het dikwels sy eie dagloon verdien deur hande arbeid te verrig ten einde die arm gemeentes nie geldelik te belas nie (bv Hand 17; 20; 2 Tess 3).

b. Deursigtigheid. Paulus deel deurgaans sy planne (asook enige verandering daaraan) met sy gemeentes (vgl 2 Kor 2:12-24). Sy integriteit as geestelike leier is ononderhandelbaar. Wanneer geld ter sprake is, tree Paulus baie deursigtig op, soos met sy geldinsameling vir die arm gelowiges in Jerusalem (2 Kor 8-9). Paulus is ook altyd bereid om verslag van sy werk te doen (vgl Hand  15 en 21 waar hy in Jerusalem vertel van sy werk voor die leiers van die Jerusalem gemeente, of Gal 2:1-10 waar hy verslag doen aan Petrus, Johannes en Jakobus). Tog besef Paulus dat nog ander gelowiges, nog hyself, oor die regte kriteria beskik om geestelike werk na behore te beoordeel. Daarom dat hy homself nie eens beoordeel nie en dat hy ook van mening is dat die gemeentes dit nie kan doen nie. Hierdie beoordeling los hy aan die Here oor (1 Kor 4:1-5).

c. Aanspreeklikheid. Geestelike werkers is volgens die Bybel aanspreeklik vir hul bediening teenoor diegene wat hulle bedien. Hulle werk moet oop en bloot vir almal wees om te verstaan, soos wat Paulus dikwels oor sy eie bediening getuig (vgl bv 2 Kor 3-4). Wanneer geestelike werkers nie optree volgens Bybelse beginsels nie, soos in die geval van die kerkleier Diotrefes in die tweede Johannesbrief, moet hulle persoonlik daaroor vermaan word.

d. Oppas vir geestelike manipulasie. In die gemeente in Tessalonika was daar ‘n paar mense wat ophou werk het en van ander gelowiges verwag het om hulle te versorg terwyl hulle die wederkoms inwag. Paulus vermaan hierdie mense dat hulle lui is en beveel die gemeente om hulle nie verder te versorg nie (2 Tess 3:10-12). Geestelike werkers wat dus onder ‘n skyn van vroomheid nalaat om die Here se werk korrek te doen, moet aangespreek word. Finansiële steun aan hulle moet gestaak word.

e. Geestelike aanmoediging: Geestelike werkers word gedurig in die Bybel aangespoor tot volharding ten opsigte van hulle roeping (bv 1 Tim 6:14; 2 Tim 4:5). Hulle moet nooit, vanweë laksheid, vrees of luiheid, hul werk versuim nie (2 Tim 2:15).

B. Vergoeding

Paulus verduidelik in 1 Korintiërs 9 dat bepaalde regte gepaard gaan met die bediening van die evangelie, soos die reg op fisiese versorging van die kant van diegene wat deur geestelike werkers bedien word (vers 4). Voorbeelde ter stawing van Paulus se argument word ontleen uit die militêre wêreld, sowel as uit die wêreld van wingerdboere en suiwelboere (vers 7). In vers 13 konstateer Paulus hierdie feit ook vanuit die Ou Testamentiese priesterkultus (bv Lev 16:9-11). Die Wet van Moses het bepaal dat priesters moes leef vanuit die offers wat deur die Israeliete gebring is. Aan die hand van ‘n saai-en-oes beeld maak Paulus dit in vers 11 duidelik dat hy en ander verkondigers van die Woord geestelike kos saai en daarom ook geregtig is op die materiële voordele wat die res van die kerk geniet. Trouens, Paulus meen dat hy selfs nog meer reg op hierdie wederkerige versorging het as ander geestelike leiers, omdat hy die stigter van die kerk in Korinte is (vers 12).

Vanweë die gevaar dat geld in Korinte ‘n afdreigmiddel in die hand van bepaalde mense kon word om Paulus te probeer beïnvloed om hulle na die mond te spreek (vgl. die sg. “patron-client” verhoudings tussen indiwidue wat in daardie tyd oral in die Romeinse Ryk aan die orde van die dag was), systap die apostel hierdie probleem deur te weier om enige finansiële vergoeding te ontvang. Hy het wel die reg hiertoe, maar hy doen vrywilliglik afstand hiervan ten einde nog meer diensbaar te wees.

Paulus se vernaamste beloning as geestelike leier is sy eie getrouheid aan sy roeping (vers 17). Sy motivering tot volharding is altyd geestelik en innerlik van aard – sy beloning ook. Hy doen sy werk uitsluitlik omdat daar ‘n hemelse roeping op sy lewe is, nie vanweë uiterlike aansporings soos geld nie (vers 18). Om te verhoed dat sy basiese roeping deur materiële vergoeding in die gedrang kom, sien hy selfs in Korinte daarvan af (vers 15). Wanneer sodanige gevaar egter nie bestaan nie, soos in die geval van die Masedoniese gemeentes in Berea, Filippi en Tessalonika, ontvang Paulus met dank finansiële ondersteuning van hulle kant af (2 Kor 11:7-11). Met ander woorde, wanneer daar geen ander motiewe van die kant van gemeentes op die tafel is nie, as en behalwe die materiële ondersteuning van geestelike leiers om hulle in staat te stel om hulle roeping te vervul, is Paulus bereid om geld van kerke te aanvaar.

In 1 Timoteus 5:17-18 vermeld Paulus wel dat bepaalde vorme van uiterlike erkenning geskied in die geval van sekere leiers, te wete, die “presbuteroi” wat voorgaan in die kerk deur prediking en onderrig en wat hard in die Here se diens werk. Hulle moet dubbele eer ontvang. Dit dui waarskynlik op uitsonderlike openbare respek en aanprysing wat deur gemeentelede aan hulle betoon word tydens een of ander kerklike byeenkoms of seremonie. (Die Griekse woord timē [eer] wat hier gebruik word, dui meestal op die mondelinge openbare erkenning deur ander in daardie tyd.) ‘n Ander moontlikheid is ook dat hulle geldelike vergoeding vir hulle harde werk ontvang het.

 

Evaluerende opmerkings

Die Bybel hanteer die motief van loon hoofsaaklik binne geestelike kontekste. Wanneer materiële vergoeding van werkers in die Heer se diens ter sprake kom, is dit ‘n erkende beginsel dat diegene wat deur hulle bedien word ook verantwoordelikheid aanvaar vir geestelike werkers se materiële versorging. Hierdie versorging moet geestelike werkers in staat stel om hulle werk effektief en kommervry te doen.

Die normale Bybelse roete is om geestelike leiers indiwidueel te bemagtig om hulle Godgegewe visies op grondvlak te dryf en te realiseer. In hierdie verband is dit veral die roeping van kerkrade om geestelike werkers afsonderlik met die nodige middele, infrastrukture, fondse en geestelike hulp te voorsien sodat hulle gemotiveerd kan bly om die Here se werk te doen. Hier is indiwiduele versorging, deernis en gesonde verhoudings op grondvlak die deurslaggewende sleutels. Beloning is nie in hierdie gevalle ter sprake nie, indiwiduele bemagtiging wel! Daarom word materiële aansporings nie in die Bybel beklemtoon as “beloning” vir suksesvol afgehandelde aksies en programme nie. Die vernaamste aansporing tot groter effektiwiteit en opregte geestelike werk in die Nuwe Testament is eerder die nuwe geestelike realiteite wat by die wederkoms van Christus op ons wag. Aan die hand hiervan spoor Paulus geestelike werkers in 1 Korintiërs 3 aan om goeie bouers van die Here se aardse huis te wees.

Verslagdoening van die kant van geestelike werkers is ‘n Bybelse feit. Al beoordeel God die egtheid en aard van geestelike werkers se bouwerk, is hulle nooit verhewe bokant verslagdoening en deursigtigheid nie. Waar probleme soos dwaallering, luiheid of geestelike agteruitgang ter sprake is by geestelike werkers, word sodanige sake in die Bybel afsonderlik, pertinent en op die naam aangespreek.

Sogenaamde prestasiegedrewe vergoeding blyk glad nie die normale roete te wees binne die vroeë kerk nie. Dit hou ‘n potensiële bedreiging in vir die kohesie van geestelike leierspanne. Dit kan aanleiding gee tot onnodige onderlinge kompetisie en wantroue. Eweneens is dit ook baie moeilik om die werklike geestelike impak van verskillende bedieninge aan die hand van objektiewe kriteria te bepaal. Geestelike leierskap, wat geskoei is op onderlinge verhoudings en die oprigting van spanne om gemeenskaplike doelwitte te bereik, is eerder hier die aangewese weg. Hiervolgens word geestelike werkers afsonderlik bemagtig en aangespoor tot geestelike diens.

 

Skrywer: Prof Stephan Joubert

image_pdfimage_print

You may also like...