ROMEINE 8

image_pdfimage_print

In the face of suffering, one has no right to turn away, not to see. -Elie Wiesel.

ROMEINE 8

Romeine 8 is een van die ongelooflikste hoofstukke in die Bybel. Aan die einde van die hoofstuk – verse 31 tot 39 – vra Paulus ‘n aantal retoriese vrae. Dit is eintlik ‘n uitdaging gerig aan mense wat die geestelike werklikhede wat hy pas beskryf het en wat God self daargestel het, wil ontken. Dit is retoriese vrae – daar is geen antwoorde nie. Geen mag of persoon of ondervinding kan dit wat God vir ons in Jesus Christus gedoen het, ongedaan maak nie. Kom ons kyk na hierdie vrae:

 

 Vraag #1: Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Die enigste toepaslike reaksie op die dinge genoem in 8:18 – 30 is om ons te verheug, want ons het hernude vertroue dat ons verhouding met God vas staan en ons toekoms seker is.

 Vraag #2: God is vir ons, wie kan dan teen ons wees? Christene kom voor vyande te staan, maar nie een van hulle sal ons oorwin nie. Ons mag ‘n paar klein skermutselingetjies verloor, maar ons sal nooit die oorlog verloor nie.

 Vraag #3: Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie? God het sy grootste gawe – sy Seun – aan ons gegee. Hy sal tog nie huiwer om ook die kleiner gawes aan ons te gee nie.

 Vraag #4 en 5: Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons. God het ons as sy kinders uitverkies. Niemand kan enige aanklag wat in God se geregshof sal staan, teen ons inbring nie. Geen mens kan ons veroordeel as God ons vryspreek nie. God, die regverdige regter, het reeds in ons guns besluit.

 Vraag 6 en 7: Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? Ons verhouding met God is nie alleen wetlik nie, maar is ook gefundeer op ‘n verhouding. Ons is nie net die begunstigdes van ‘n positiewe uitspraak nie; ons is ook die ontvangers van ‘n volkome liefde. God is nie alleen ons Regter nie – Hy is ook ons Vader. Daarom kan niks ons van sy liefde skei nie. Paulus noem sewe dinge wat ons moontlik van God mag skei (meeste het hy self ondervind), maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. Nêrens word gesê dat ons nie vervolg sal word of sal swaarkry nie. Wat ons wel weet, is dat God nooit sal ophou om ons lief te hê nie.

 

Wat ‘n wonderlike vertroosting.

image_pdfimage_print