Wêreldsiening: Die Christelike wêreldsiening

image_pdfimage_print

Every living soul has a sphere of influence. Let him see to it that he fills it (J. C. Ryle)

 

Wêreldsiening: Die Christelike wêreldsiening

James N. Anderson het ‘n baie interessante, interaktiewe boek geskryf: What’s your Worldview? Ek gaan onder andere hiervan gebruik maak in ‘n aantal blogs.

Die Christendom is vandag die grootste godsdiens in die wêreld. Die middelpunt is Jesus Christus. Christene glo dat Hy nie alleen ‘n groot profeet en geestelike leermeester is nie, maar dat Hy die Seun van God en self ook God is – die Verlosser van die wêreld. Daar is ‘n persoonlike God wat volmaak in goedheid, kennis en mag is. God het die heelal uit niks geskep nie en onderhou dit voortdurend. Ons as mense is na die beeld van God gemaak om in ‘n persoonlike liefdesverhouding met Hom en ons naaste te leef. Daar is dus objektiewe morele standaarde vir die lewe: God se goeie en wyse gebooie wat opgesom kan word as liefde vir Hom en liefde vir die naaste.

 

Maar die mens het in opstand gekom teen sy Skepper en sy wette oortee. Daarmee bederf ons God se skepping en plaas onsself onder sy regverdige oordeel. Diep in ons harte is ons almal opstandig en verdien veroordeling. As gevolg van sy groot liefde en genade stuur God vir ons ‘n Verlosser – sy Seun Jesus Christus. Jesus Christus versoen ons met God. Dit doen Hy met sy kruisdood vir ons sondes en sy opstanding. God het sy verlossingsplan deur sy profete, apostels en veral deur Jesus Christus onthul. Hierdie openbarings kry ons in die Bybel.

Die grootste probleem vir die Christelike wêreldsiening is ongetwyfeld die probleem van die bose. As God volmaak is en alles goed gemaak het, hoekom is daar boosheid in die wêreld. Die Bybel gee ‘n aantal redes, maar nie een verklaar al die vrae nie. Maar as ons die Christelike wêreldbeeld met al die ander wêreldsienings vergelyk, bly dit die beste verklaring  vir die onderskeid tussen goed en sleg en ons ondervinding van goed en sleg in hierdie wêreld.

Die Christelike wêreldsiening het een baie belangrike bate: Jesus van Nasaret – die invloedrykste mens in die geskiedenis van die wêreld. Jy kan Hom nie ignoreer nie; iewers moet Hy in jou wêreldbeeld inpas. As jy hom nie in die middelpunt plaas nie, waar wil jy Hom dan plaas?

 

image_pdfimage_print

You may also like...