Basiese inligting oor Jesus se twaalf dissipels – Jan van der Watt

image_pdfimage_print

Die name van die twaalf dissipels van Jesus kry ons by die volgende plekke (Matt 10:2-4; Luk 6:13-16. Die naam van Natánael word ekstra in Joh 1:46-47 genoem).

 Simon Petrus (Cefas), seun van Jona, visserman uit Betsáida/ Kapernaum, broer van Andréas. Hy is ‘n sleutelapostel in die Nuwe Testament. Volgens tradisie is hy in Rome doodgemartel deur onderstebo aan ‘n kruis gehang te word. Sy beendere (na ‘n bietjie omswerwings) lê tans onder die altaar van die St. Petrus katedraal in die Vatikaanstad.

Andréas broer van Simon Petrus, seun van Jona, visserman uit Betsáida/ Kapernaum. Hy speel nie ‘n prominente rol in die Nuwe Testament nie. Daar is egter in die apokriewe boeke ‘n Handelinge van Andréas wat vertel hoe Andreas in die huidige Turkye die evangelie verkondig het, demone uitgedryf het, siekes gesond gemaak het en dooies opgewek het. Hy het selibaat verkondig en is uiteindelik deur die leier van een van die gebiede langs die see gekruisig omdat hy die vrou van die leier (Maksimilla) tot bekering gebring het en sy het toe seksuele toenadering van haar man geweier.

Jakobus, die seun van Sebedéüs, ouer broer van Johannes (Jakobus die grotere/ ouere). ‘n Visserman in die groep van Petrus. Sy ma was een van die drie vroue wat by die kruis van Jesus was (Mat 27:56). Hy was die eerste dissipel wat as martelaar gesterf het (Hand 12:1-2) onder Herodus Agrippa I wat die guns van die Jode wou wen. Buite die Nuwe Testament is daar verskeie verhale oor Jakobus – daar word vertel dat die ‘polisieman’ wat Jakobus terrreggestel het, in die proses tot bekering gekom het. Ander verhale vertel van Jakobus wat in Spanje die evangelie verkondig het (hy is die beskermheilige van Spanje), ‘n Ander tradisie vertel dat sy liggaam op ‘n skip gesit is en deur engele na Santiago de Compostela (‘n beroemde bedevaartsoord) geneem is.

Jakobus, die seun van Alféüs (Jakobus die kleine/ jonger). Van hom is niks verder bekend nie.

Johannes, die seun van Sebedéüs, jonger broer van Jakobus. ‘n Visserman in die groep van Petrus. Sy ma was een van die drie vroue wat by die kruis van Jesus was (Mat 27:56). Hy word die geliefde dissipel genoem en word volgens die vroegste tradisie gesien as die skrywer van die Johannesevangelie en –briewe. Volgens tradisie is hy van Jerusalem na Efese waar hy ‘n ryp ouderdom bereik het en uiteindelik aan natuurlike oorsake oorlede is. Daar word vertel van sy suksesvolle bediening in Efese, waar hy kriminele tot bekering gelei het en selfs iemand uit die dood opgewek het. Volgens tradisie is sy graf in Efese.

Fillipus, uit Betsáida. Daar is buite-Bybelse verhale dat hy die evangelie met welslae in Turkye verkondig het en as gevolg daarvan doodgemartel is. Hy is uiteindelik in Hierapolis begrawe en sy waarskynlike graf is onlangs daar teen die berg gevind.

Tomas Didimus is veral bekend omdat hy nie wou glo voordat hy sy vingers in Jesus se wonde gesteek het nie (Joh 20:24-25). Buite-Bybelse inligting vertel dat hy besondere openbarings van die Here ontvang het en in die Handelinge van Tomas word daar vertel van sy verkondiging van die evangelie asook sy martelaarskap in Indië, ‘n tradisie wat tot vandag nog lewendig gevier word.

Matteus, die tollenaar, ook Levi genoem, wat waarskynlik die die Matteusevangelie geskryf het. Heelwaarskynlik is hy in Galilea gebore, met Alfeus as sy pa.

Simon Kananítes (Seloot/ Yweraar). Hy het waarskynlik aan die Selote behoort wat hipergetrou was aan die Wet en dit op hulle geneem het om die eer van die Wet te beskerm deur die oortreders van die wet te straf. Sy lewe moes radikaal verander het as dissipel van die Here.  

Judas, die seun van Jakobus (sien by Lebbéüs)

Judas Iskáriot, die een wat Jesus verraai het. In die geskiedenis bly sy daad van verraad steeds ‘n punt van diskussie. Oor die algemeen word sy lot vergelyk met die van mense wat teen God draai. In die resente tyd het daar teorieë die lig gesien (veral met die ontdekking van die Evanglie van Judas) wat Judas eerder as ‘n spesiale dissipel vir wie Jesus vertrou het, uitgebeeld het. Dit is egter nie oortuigend genoeg om die Bybelse beeld van Judas omver te gooi nie.

Bartholomeus word deur sommige met Natanael (sien hieronder) geïdentifiseer, maar dit is betwyfelbaar. Buite-Bybelse gegewens verwys wel na hom. Hy kom waarskynlik uit die huis van Naftali en is aanvanklik Johannes genoem. Hy het die naam verander ter wille van Johannes, die geliefde dissipel. ‘n Kerkvader (Eusebius) vertel dat hy die evangelie in Indië verkondig het, maar sy naam word ook met gebiede in Turkye en die huidige Irak en Iran verbind. Ander tradisies sê hy is in Armenia van sy vel gestroop en onthoof. Ander vertel dat sy liggaam in ‘n sak gesit is en in die see gegooi is.

Lebbéüs ( sy ‘van’) wat genoem word Thaddéüs (sy ‘naam’) (deur Matteus en Markus genoem – Matt 10:3; Mk 3:18). Lukas noem nie hierdie naam in sy lys nie, maar ook nie die van Judas die seun van Jakobus nie. Daar word gemeen dat die twee name wel na dieselfde persoon verwys, maar dat Matteus en Markus die naam Lebbéüs gebruik om misverstand rondom Judas Iskariot te voorkom. Nie veel is bekend oor die persoon nie, hoewel latere buite-Bybelse literatuur (Die Handelinge van Thaddéüs) wel vertel van Lebbéüs wat in Edessa in Irak die evangelie van die Here met sukses verkondig het.

Natanael, ‘n Israeliet in wie daar geen bedrog is nie (deur Johannes genoem – 1:46-47). Van die 9e eeu af is hy met Bartholomeus (sien hierbo) geïdentifiseer, maar dat dit so is lyk onwaarskynlik. Min is verder oor hom bekend.

Mattias, wat na die verraad in die plek van Judas Iskáriot gekies is (Hand 1:26). Min is verder oor hom bekend.

Skrywer: Prof Jan van der Watt

image_pdfimage_print

You may also like...