Bybelverse wat verkeerd gebruik word: Inleiding (1)

image_pdfimage_print

Part of the difficulty is that Jesus was and is much, much more than people imagine. Not just people in general, but practicing Christians, the churches themselves – N. T. Wright

Bybelverse wat verkeerd gebruik word: Inleiding (1)

Eric J. Bargerhuff het ‘n baie interessante boek – The Most Misused Verses in the Bible – geskryf. In hierdie reeks gaan ek onder andere van hierdie boek gebruik maak.

Van die bekendste verse in die Bybel word dikwels verkeerd verstaan en/of verkeerd gebruik. Die Bybel is ‘n lewensveranderende boek –  dit vertel vir ons wie God is en hoe Hy besig is om in ons wêreld te werk; dit sê vir ons hoe hy in die verlede gewerk het en wat sy wil vir die toekoms is. Die Bybel is die werk van God en besit groot krag; dit is geskryf sodat ons kan glo en die verlossing en ewige lewe wat deur geloof in Jesus Christus kom, kan ondervind.

 

Volgens die Bybel self is die Bybel deur die Heilige Gees geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek (2 Timoteus 3:16). Die Bybel is die stem en openbaring van God self. Maar as die Bybel verkeerd en ontoepaslik gebruik word, kan die Bybel ‘n baie gevaarlike boek wees. Hitler het die woorde van Jesus buite konteks geneem en vir propaganda doeleindes gebruik. So gebruik hy Jesus se veroordeling van die korrupte Joodse godsdiensleiers en sy reiniging van die tempel vir sy eie agenda – die uitwissing van die Jode. Hy eindig ‘n toespraak in 1922 in Munich met hierdie woorde: “Hoe geweldig was sy (Jesus se)  geveg nie vir die wêreld teen die Joodse gif nie.” Hitler gebruik woorde wat Jesus teen ‘n geselekteerde groepie mense gebruik het en maak dit op ‘n hele volk van toepassing – almal van hulle dra nou die etiket van gif.

Hierdie is ‘n uiterste voorbeeld. Maar ons kry ook Christene wat dit goed bedoel wat die Bybel verkeerd aanhaal en sy betekenis misverstaan. Dit lei tot verwarring en verkeerde besluite oor God se wil vir my lewe. Die toepassing van sekere verse kan verskil van geslag tot geslag, maar die oorspronklike skrywer se betekenis en bedoeling en die onderliggende beginsels daaruit afgelei, staan vas. Ons moet weet wat hierdie verse bedoel het toe hulle geskrywe is sodat ons hulle vandag korrek kan toepas.

Is dit nou ‘n nuwe ding wat by die kerk ingesluip het? Daar is niks nuuts in hierdie wêreld nie (Prediker 1:9). Reeds in Genesis 3 met die verskyning van die slang probeer Satan God se woord ondermyn. Hierdie strategie en taktiek wat hy gebruik het, gebruik hy steeds vandag. God sê self dat die skepping baie goed was (Genesis 1:31). Adam en Eva leef in volkome harmonie en gehoorsaamheid aan God. God gee spesifieke opdragte oor die boom in die middel van die tuin – die boom van die lewe. Van daardie boom mag Adam en Eva nie eet nie. En toe: Die slang was listiger as al die wilde diere wat deur die Here God gemaak is en het vir die vrou gevra: “Het God werklik gesê julle mag van geen boom in die tuin eet nie?” (Genesis 3:1). Let op Satan se tegniek. Hy begin deur twyfel te saai: Het God werklik gesê … Dan haal hy doelbewus vir God verkeerd aan: Geen boom in die tuin … God het hulle verbied om van ‘n sekere boom te eet, nie van alle bome nie. Die eerste vraag in die Bybel is ‘n verkeerde aanhaling van God se woorde.

Satan loods nou ‘n sterker aanval: Julle sal beslis nie sterf nie, maar God weet dat julle oë sal oopgaan die dag as julle van daardie boom eet en dan sal julle soos God wees deurdat julle alles kan ken (Genesis 3:4 – 5). Satan bevraagteken hier die wettigheid van morele beperkings en grense vir die gedrag van die mens. Satan probeer dus die vrou oortuig dat God se opdragte anders verstaan moet word as wat God oorspronklik bedoel het hulle verstaan moet word. Die Satan probeer God as selfsugtig, onseker uitbeeld – God is bang hulle sal Hom ignoreer tensy beperkings op die mens geplaas word.

Ons kry vandag steeds dieselfde probleme. Daarna gaan ons volgende keer kyk.

image_pdfimage_print

You may also like...