Dag 8: Kersfees nederigheid

image_pdfimage_print

 

Dag 8: Kersfees nederigheid

Die Billy Graham Center for Evangelism het ‘n aantal leraars gekry om vir 25-dae stukkies te skryf vir Advent. Ons gaan oor die volgende 25 dae elke dag een van hierdie stukkies plaas.

[Advent word gewoonlik toegepas op die vier weke voor Kersfees. Latyn: ad – na + venire – kom. Dit dui dus op die naderende koms van Christus – sy eerste en tweede koms.]

 

Kersfees is ‘n prentjie van God se nederige koms na die wêreld en die mens se storie. Ons Here het nie op ‘n afstand gestaan en verlossingsopdragte uitgeskreeu nie. Jesus het nie met trompetgeskal en swierigheid gekom nie. Hy is in ‘n stal gebore en niemand het dit opgelet nie … behalwe die hemelse leërskare. Uiteindelik kry wyse manne en skaapwagters die uitnodiging. Die eerste Kersfees was nie ‘n spoggerige affêre nie.

 

Josef, Maria en ‘n babaseun is blootgestel aan die elemente in ‘n stal. Die Goddelike gawe uit die hemel kom na die wêreld feitlik sonder ‘n rimpeling in die dam van die geskiedenis van die mens. Wat leer ons van die manier waarop Jesus gekom het? Nederigheid.. Opoffering. Diens. Ons wat die Gees van Jesus in ons dra, behoort deur die wêreld te loop soos Jesus geloop het. Ons wat sy Naam dra, moet baie soos Hy lyk.

 

Ons word Christene genoem. As mense na ons kyk, moet hulle die Verlosser van die wêreld in ons weerkaats sien – in ons woorde, gesindhede en daaglikse gedrag. Nederigheid moet die teken wees van alles wat ons sê en doen. Ons evangelisasie moet natuurlik wees, gedryf deur nederigheid. Kom ons raak ontslae van ‘n veroordelende gesindheid. Moenie verwag dat nie-gelowiges soos Christene gaan optree nie. As ons werklik eerlik wil wees: Dit is moeilik genoeg vir Christene om soos Christene op te tree al is die Heilige Gees in ons.

 

Wys genade, barmhartigheid en vriendelikheid aan mense wat nog nie besef dat God hulle lief het nie. Laat ons elke persoon met wie ons pad hierdie Kersseisoen kruis met liefde en nederige genade behandel. Onthou: Christus het gekom om sondaars te red.

Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was: Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moet vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word (Filippense 2:5 – 7).

 

image_pdfimage_print