Die merk van die dier – Francois Malan

image_pdfimage_print

Susan vra:

Waar staan dit in die Bybel dat jy nie ‘n mikro skyfie onder jou vel mag laat aanbring nie vir betaal van goedere nie

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Dit staan nie in die Bybel nie. Wat wel in die Bybel staan is die volgende:

In Openbaring 13:16-18 staan: die dier uit die aarde ‘het ook almal, klein en groot, ryk en arm, vry mense en slawe, verplig om ’n merk op hulle regterhand of op hulle voorkoppe te laat aanbring, sodat niemand, behalwe dié met die merk van die naam van die dier of die getal van sy naam, sou kon koop of verkoop nie. Hiervoor is wysheid nodig. Wie insig het, moet die getal van die dier bereken, want dit is die getal van ’n mens, en sy getal is seshonderd ses-en-sestig.’

In Openbaring 14:9-11 staan dat ’n engel het met ’n harde stem uitgeroep: ‘As iemand die dier en sy beeld aanbid en ’n merk op sy voorkop of op sy hand ontvang het, sal hy ook drink van die wyn van God se woede wat onverdun in die beker van God se toorn geskink is. Hy sal ook in die teenwoordigheid van die heilige engele en die Lam met vuur en swael gefolter word. En die rook van hulle foltering bly opstyg vir ewig en ewig, en hulle wat die dier en sy beeld aanbid, kry dag en nag geen rus nie, ook nie hulle wat die merk van sy naam ontvang het nie.

In Openbaring 20:4 word verwys na die mense wat nie neergeval het om die dier en sy beeld te aanbid nie, en nie die merk op die vookop of op die hand ontvang het nie.

Openbaring is ’n boek wat met metafore werk waarvan die betekenis toegepas moet word. So is die getal 666 van die dier ’n getal wat bereken moet word. Die agtergrond daarvan is dat ‘die groot draak van Openbaring 12:9, die slang van weleer (voor die skepping), wat Duiwel en Satan genoem word, die verleier van die hele bewoonde wêreld is’ (vgl. ook Openb 19:20). Die Duiwel gee voor dat Hy God is wat aanbid moet word in plaas van die Vader van Jesus Christus.

Die dier uit die see van Openbaring 13:1-8 is ‘n parodie (spottende nabootsing) op Christus, die Lam wat geslag is en in die hemel opgeneem is na sy opstanding en die boekrol in sy hand hou en die seëls oopbreek (5:5-6) – een van die dier se koppe lyk of dit dodelik verwond was (letterlik ‘geslag was tot die dood’, soos die Lam in 5:6 ) maar genees het (Openb 13:14: weer lewend geword het, soos Openb 2:8 van Jesus sê), en dit laat die mense in verwondering agter hom aanloop. Die dier se na-apery van wat God deur Christus gedoen het, is so goed dat dit moeilik word om die egte van die valse te onderskei.

Die dier wat uit die aarde opkom van Openbaring 13:11-18 verplig alle mense om gemerk te word op hulle voorkoppe om hulle innerlike toewyding aan te dui, en op hulle regterhande wat die praktiese uitoefening aandui van hulle toewyding aan die dier. Dit staan teenoor die seël op die gelowiges se voorkoppe (Openb 7:3-4; 9:4; Eseg 9:4). Soos die seël God se kinders identifiseer as syne en hulle beskerm teen die oordeel (Openb 9:4), beskerm die merk van die dier uit die see mense teen ekonomiese en sosiale uitsluiting. Dit is nie ‘n letterlike merk nie, maar verteenwoordig die mense se innerlike lojaliteite, besluite (merk op die voorkop) en manier van lewe soos spreek uit hulle werke (wat gesimboliseer is deur die merk op die hand). Die dier uit die aarde probeer om die teendeel van die werk van die Heilige Gees in ons, te bewerk.

Om ’n Suid-Afrikaanse voorbeeld van die uitsluiting van mense sonder die merk van die dier, te gee: Met die staatskaping werk dit so dat aan die mense of tenderaars wat bereid is om omkoopgeld te betaal, kontrakte toegeken word. Die merk van die dier is die bereidheid om omkoopgeld te vra en te betaal om gunste te kry. Die mense wat weier om omkoopgeld te vra of te betaal omdat hulle die merk van die Here op hulle koppe het, in hulle gedagtes en gewetes, loop die eerlike pad van die Here, en hulle word van geleenthede en kontrakte uitgesluit. Mense wat oneerlik werk met die geld en beleggings van ander mense, het die merk van die dier op hulle voorkoppe, dit wil sê in hulle gedagtes en harte. Mense wat eerlik werk met ander se geld en eiendom, lewe volgens die Here se gebod in Eksodus 20: 15: ‘Jy mag nie steel nie.’ Dit is die merk van die Here op hulle koppe, eintlik in hulle denke en harte. Daarom sal Jesus met sy wederkoms elkeen wat die leuen liefhet en beoefen uitsluit uit die ewige lewe (Openb 22:15) en hulle deel is die brandende poel van swawel en vuur (Openb 20:13; 21:8).

Openbaring 13:18: Die merk wat gedra word is ‘die naam van die dier of die getal van sy naam wat identies is met sy naam. Dit is die getal van ‘n mens (of:’n menslike getal) nl. seshonderd-ses-en-sestig’ (baie verklarings is al vir die 666 gegee). Dit is waarskynlik ‘n simboliese getal van mense wat self god wil wees of lewe asof hulle god is, waar ses net een tekortskiet op die volmaakte getal sewe van God. So kan die draak, die dier uit die see, en die dier uit die aarde, die drie, nie soos God volmaak wees nie. Die getal vir volmaaktheid is driemaal sewe, die Vader-Seun-Heilige Gees: 777.

Die wysheid wat nodig is, is om die bedrieglike en dierlike aard van die bose te verstaan, sowel as die selfverheerlikkende magte en strukture van die samelewing, regerings en leiers, wat hulle perke oorskrei en die ware Godheid probeer vervang. As mense en menslike instansies  probeer om soos God te wees en lojaliteit vereis wat aan God alleen toekom, word hulle dierlik in hulle denke (merk op die voorkop) en optrede (merk op die hand). Met die beeld van die dier uit die aarde waarsku Johannes  teen kompromieë en vereenselwinging met die waardes, norme en gelowe van die sekulêre kultuur. Navolgers van Jesus lewe nie vir hulleself nie, maar om soos Jesus ander in liefde te dien. Dan het jy die seël van God die Vader, Seun en Heilige Gees op jou voorkop van Openbaring 7:3 (jou denke en geloof in Jesus Christus). Die merk met die Naam van God en van Jesus  word reeds in Openbaring 3:12 genoem. Die vrug van die Heilige Gees se werk in ons is ons merk. Galasiërs 5:22-23 beskryf dit as: liefde, blydskap, vrede, geduld, vrendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid/nederigheid, selfbeheersing. Dit is die merk wat ’n Christen kenmerk.

Skrywer:  Prof Francois Malan

image_pdfimage_print

You may also like...