Die Ons Vader-gebed: Laat u koninkryk kom

image_pdfimage_print

 “Jesus was unique among men in that His birth did not mark His origin, but only His appearance as a man on the stage of time.” J. Oswald Sanders

 

Die Ons Vader-gebed:  Laat u koninkryk kom

In 1984 het Prof David Bosch vyf Bybelstudie sessies by die jaarlikse konferensie van die Christian Medical Fellowship gehou oor hierdie gebed Die volledige sessies is op hulle webblad beskikbaar. Ons gaan in ‘n hele aantal blogs na kernidees uit hierdie sessies kyk.

 

Die koninkryk van God kry ons reeds in die Ou Testament. Dit word reeds vir die ryk van Dawid gebruik. Dit verwys eerstens na God se koninklike heerskappy oor Israel, maar toenemend na God se heerskappy oor alle nasies.

Op ‘n stadium is geglo dat God se koninklike heerskappy duidelik sal word uit die heerskappy van die konings van Israel (2 Samuel 7:12 – 16). Later is geglo dat God oor die wêreld uit die tempel sal heers (Esegiël 40 – 43). Ander het geglo dat God se koninkryk ‘n toekomstige entiteit is. Dan sal die huidige bedeling totaal omgekeer word – Israel is bo en al sy vyande onder hom. Die koninkryk van God beteken dus die herstelde koninkryk van Israel – die onderdrukte word die onderdrukker.

 

Hierdie siening was die algemene siening – ook onder Jesus se dissipels. So vra hulle vir Jesus: Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk van Israel weer gaan oprig? (Handelinge 1:6). Jesus verwerp hierdie interpretasie. Hy weier om as politieke leier geëer te word (Johannes 6:15); Hy weier om ‘n leier deur geweld te word (Matteus 26:53). Een van die versoekings waaraan die Satan Jesus onderwerp het, was juis dit: al die koninkryke is syne as Hy die Satan aanbid (Matteus 4:8 – 9).

 

Jesus verwerp alle pogings om ‘n politieke koninkryk te vestig. Tog begin Hy sy aardse bediening met: Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom (Markus 1:15). Matteus 13, die strukturele middelpunt van die boek, bevat nie minder as ses gelykenisse oor die koninkryk van God nie. Dit onderstreep die belang van God se koninkryk in Jesus se bediening. Die klem val op die nabyheid van die koninkryk – in werklikheid is dit reeds hier. Die koninkryk het aangekom met Jesus se persoon en bediening.

 

In Matteus 13 word die koninkryk vergelyk met  ‘n verborge skat, ‘n kosbare pêreld, , suurdeeg wat alles verander. Dikwels word die koninkryk met ‘n bruilof vergelyk (Matteus 22:1 – 14), waarheen almal – veral diegene wat gemarginaliseer is – uitgenooi word13:45).

 

Jesus het ‘n politieke koninkryk verwerp, maar tog bots Hy met die politieke magte van sy tyd. Toe Pilatus Hom wou vrylaat, skreeu die Jode dat Hy nie ‘n vriend van die keiser is nie (Johannes 19:12). Daarom is dit geen wonder dat ‘n versoek soos laat u koninkryk kom, gesien is as ondermynend nie. Dit is immers ‘n vurige begeerte om te sien dat dinge verander. Beide Jode en Romeine doen alles in hulle vermoë om hierdie beweging te onderdruk – Jesus en sy volgelinge doen alles om die bestaande orde te ondermyn. Kyk net aan wie word die koninkryk van God belowe: Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die Hemel (Matteus 5:3); Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel (5:10).

 

Die koninkryk van God kom wanneer die minder bevoorregtes ook bevoorreg word, wanneer die armes ook geseën word; wanneer diegene wat vervolg word die goeie nuus ontvang en wanneer geregtigheid geïmplementeer word.  Koninkryk en geregtigheid staan  in ‘n sekere sin langs mekaar:Soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word (Matteus 6:33 – OAV).       

 

Die teenoorgestelde is natuurlik ook waar: as ons geregtigheid ignoreer gaan die koninkryk by ons verby: Nie elkeen wat vir My sê: Here! Here! sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader (Matteus 7:21).

 

Die versoek: Laat u koninkryk kom, is ook ‘n gebed vir die finale en volledige manifestasie van God se koninkryk. Die uiteindelike koninkryk van God moet nog kom. Maar as ons bid, wy ons ons toe aan die verwagting van die koninkryk. Ons het die versekering dat die koms van die koninkryk nie gedwarsboom kan word nie. God kan alle hindernisse oorwin. As ons dus bid: Laat u koninkryk kom, word ons opgeroep om te werk vir die koms van hierdie koninkryk.

 

 

image_pdfimage_print

You may also like...