“Huisskoonmaak”

image_pdfimage_print

“Huisskoonmaak”

Theo Visser vra:

Daar doen ‘n CD die rondte wat “huisskoonmaak” hanteer. Daarin word gelowiges aanbeveel om van sekere items wat moontlik in die huis kan voorkom, ontslae te raak –  byvoorbeeld beeldjies van feetjies of kabouters. Sulke items sou dan glo oop deure vir die bose wees . Ek glo nie ek onderskat die krag van die bose nie , maar maak hierdie mense afleidings wat nie gestaaf kan word deur behoorlike bestudering van die Woord nie? Ek glo so. (Ek het nog nie self die CD onder oë gehad nie so ek weet nie wie dit uitgee nie.)

Antwoord van Prof Jan van der Watt:

Theo Visser skryf dat daar ‘n CD die rondte doen wat aanbeveel dat gelowiges  met “huisskoonmaak” te doen het. Dit beteken dat daar by gelowiges aanbeveel word om van sekere items wat moontlik in die huis kan voorkom, ontslae geraak moet word, byvoorbeeld. beeldjies van feetjies, kabouters of ander vreemde beelde. Sulke items sou dan glo oop deure vir die bose wees.

Die vraag is: kan ʼn beeldjie of ʼn hangertjie duiwelse magte so oor my kan laat losbreek dat ek maar net magteloos kan toekyk hoe die duiwel my siek maak of dinge vir my en my huis kan laat skeefloop? Moet ʼn mens bang wees vir duiwels of demone wat in ʼn stukkie juweliersware of in een of ander beeldjie in jou huis rondlê? Beteken dit regtig dat die duiwel in die geheim hierin wegkruip om jou in oomblikke van swakheid te bekruip?

Ek moet sê dat ek regtig wens dat geestelike kragte in sulke hangertjies, beeldjies of tekens kon wegkruip. Dit sou beteken dat dit ook van kruisies of beeldjies van Jesus waar moes wees. Immers as geesteskragte in hangertjies kan wegkruip, kan dit mos nie net van die duiwel waar wees nie – dit moet ook van Christus waar wees. En nou die rede hoekom ek wens dat dit waar sou kon wees: Christus is mos baie sterker as die duiwels. As jy dus ‘n kruisie om jou nek hang, sou dit moes beteken dat Christus so besit neem van jou lewe, net soos mense beweer dat ‘n satanshangertjie of beeldjie die duiwel besit van jou laat neem. Maar ons weet dit werk nie so nie. Ons weet mos jy kom nie skielik jou eksamen deur deur ‘n kruisie om jou nek te hang nie of kom nooit in ‘n ongeluk omdat jy die Christelike vis-teken agter op jou kar plak nie.

Daar kruip nie bonatuurlike kragte in metaalhangertjies, vissies op ‘n kar of beeldjies in ‘n huis weg nie. ‘n Kruisie om jou nek is maar net ‘n stukkie metaal. Die krag lê nie daarin nie, maar in die Here wat aan die kruis vir ons gesterf het. Die kruisie is net belangrik omdat dit ons aan die Here Jesus herinner.

So ‘n Christelike of satansteken is maar net ‘n rigtingwyser, iets wat jou herinner aan die persoon waarvoor die kruisie of satansteken staan. ‘n Teken of simbool is maar net ‘n rigtingwyser. Veronderstel jy sien ‘n padteken met ‘n petrolpomp op. Daardie padteken het self niks petrol in hom nie. Om die waarheid te sê, hy het niks met ‘n pomp te doen nie. Maar wat daardie padteken wel doen is om vir jou in die rigting te wys van waar jy dit waarvoor die padteken staan kan kry, naamlik petrol. Die padteken vertel dus van iets anders. Die kruisie om jou nek is nie Jesus nie, maar net ‘n rigtingwyser na Hom toe. Dit herinner jou net aan die Een waarvoor die kruis staan. Volg jy die rigting wat die kruis op dui, kom jy by Jesus uit. Net so is ‘n satansteken of beeld nie die satan self nie. Volg jy egter die rigting wat die satansteken vir jou aandui sal jy by die satan uitkom.

Dit bring ons nou by die werklike gevaar van duiwelstekens uit. As die satansteken op jou hangertjie jou gedurig aan die duiwel laat dink moet die rooi ligte aangaan. Dan raak die satan gevaarlik omdat jy hom toelaat in jou gedagtes. As dit gebeur dat ek elke keer wat ek my hangertjie aansit of die beeldjie sien, onwillekeurig aan Satan dink, is dit die eerste tree in die verkeerde rigting. Dis soos ‘n mot wat in die eerste draadjie van ‘n spinnerak vasvlieg. As hy hard genoeg ruk, kan hy wegkom, maar as hy in nog en nog draadjies verstrengel raak, gaan dit vir hom te veel raak. As ek meer en meer plek vir die duiwel in my gedagtes gee sal die duiwel later ‘n goeie vastrapplek hê.

Die goue reël is dus: as jou hangertjie of beeldjie jou aan satan herinner raak dan dadelik daarvan ontslae.

Maar nou hoe presies lyk satanstekens? Daar is sekere bekende satanstekens soos ‘n bokkop in ‘n vyfpuntige ster. Tog kan ‘n mens die vraag eers regtig goed beantwoord as jy begryp wat ‘n  simbool is. ‘n Simbool soos die padteken wys na iets anders. Die simbool van die kruis wys byvoorbeeld na Jesus Christus. Ons maak dus in ons gedagtes ‘n koppeling tussen die kruis en die persoon van Jesus Christus. ‘n Satansteken weer sal enige iets wees wat jou ‘n koppeling of verbinding met die duiwel laat maak. Met ander woorde as iemand byvoorbeeld sê dat ‘n beeld in jou huis ‘n satansteken is en dit laat jou elke keer aan satan dink, word daardie beeld vir jou ‘n satansteken. As daardie selfde beeld ‘n ander persoon glad nie aan satan laat dink nie, is dit vir hom nie ‘n  satansteken nie, want dit laat hom nie aan Satan dink nie. Dit beteken dat ons as Christene dikwels vir Satan ‘n klomp wapens in sy hande sit, deur allerhande dinge satanstekens te noem. Op die manier maak ons lekker deure vir satan oop om nes te gaan maak in die gedagtes van ons jongmense. ‘Satansjagters’ doen satan soms meer gunste aan as wat hulle hom beveg. Hulle blaas satan so groot op dat hy groot dele van die denke en drome van ons jongmense vul. Ja-nee, dit is gevaarlik om die duiwel meer mag en publisiteit te gee as wat hy toekom.

‘n Beter opsie sou wees om jou liewer met die tekens waarop jy trots kan wees te assosieer. Dra liewer ‘n hangertjie, koop ʼn beeldjie of gebruik ‘n boekmerkie wat jou aan Jesus herinner. Laat Hy jou gedagtes vul. 

 

Outeur: Prof Jan van der Watt

 

image_pdfimage_print