Naskrif oor Jesus se bediening – die Jode se ongeloof (12:37-43)

image_pdfimage_print

Naskrif oor Jesus se bediening – die Jode se ongeloof (12:37-43) – Francois Malan

12:37-38 Die skrywer kyk terug op Jesus se hele bediening. Ten spyte van  die baie wondertekens wat Hy voor sy eie mense, die Jode, gedoen het, het hulle nie in Hom geglo nie (1:11)  . Hulle reaksie op Hom was volgehoue ongeloof. Johannes sien hierin ‘n vervulling van Jes 53:1 wat hy uit die Griekse vertaling aanhaal: ‘Here, wie het ons boodskap geglo (Jesus se woorde wat Hy van die Vader gekry het, 3:34; 7:16-17; 8:26,28; 12:49-50 ), en aan wie is die arm van die Here (Jesus se wondertekens) geopenbaar?’  Die klag in Jes. 53 oor die Jode se ongeloof in die dienaar van die Here wat verag en deur mense verstoot is, gaan voort tot by die Jode se ongeloof teenoor Jesus en sy boodskappers – en tot vandag toe onder mense.

12:39-40 Dit is nie net dat die mense nie in Jesus geglo het nie, hulle kon ook nie in Hom glo nie, soos reeds in Jesaja 6:10 uitgespel is: ‘Hy het hulle oë verblind en hulle harte verhard, sodat hulle nie met die oë sou sien en met die hart begryp en omdraai en Ek hulle sal genees nie’ (die teks word deur Johannes vry aangehaal ; Jes. se opdrag word hier iets wat reeds gebeur het, en Jesaja se ‘sodat hulle nie genees word nie’, word ‘sodat Ek hulle nie sal genees nie’). Toe hulle Jesus se woorde gehoor en wondertekens gesien het,  moes hulle die besluit geneem het om in Jesus as Seun van God te glo. Agter hulle beslissing staan die beskikking van God. Daarmee is hulle nie van hulle verantwoordelikheid onthef nie, en word hulle deur God verwerp en geoordeel (3:36). Slegs dié wat die Vader aan Jesus gee, húlle glo in Hom (6:37,44,65; 10:29). Hulle is soos ‘n stuk hout wat uit die vuur gered is (Sag.3:2).

 

12:41 Die heerlikheid van die Here wat Jesaja gesien het (Jes 6:1-3) word hier geïdentifiseer met die heerlikheid van die Seun van God (1:14). Sy verwerping deur die ongelowiges en sy vernedering, waarvan die aanhalings uit Jesaja getuig, is deel van die openbaring van die heerlikheid van die Messias. Jesus se lyding en sy offer aan die kruis vir ons sonde is sy heerlikheid; die bevestiging dat Hy ‘vol genade en waarheid’ is (1:14).

 

12:42 Daar was egter selfs baie van die lede van die Joodse Raad wat in Jesus geglo het, om nie eers van die gewone mense te praat nie. Maar hulle posisie op die Raad en status as leiers van die volk was in gevaar as hulle openlik sou bely het dat hulle in Jesus glo. Dan sou hulle aposunagoogoi  word,  ‘uitgebandes-uit-die-sinogoge’ (vgl. 9:22), met verlies van hulle sitting op die Raad, en toegang geweier word tot die weeklikse samekomste van die volk in die sinagoges. So sou hulle aansien in die gemeenskap verloor.   

 

12:43 Johannes se beoordeling van hulle optrede is: hulle het die eer/erkenning van mense liewer gehad as die eer/erkenning van God. Die weg tot die eer van God is deur Jesus aangedui: dit gaan deur lyding en vernedering tot verhoging en heerlikheid. Dit is ‘n stille beroep op Johannes se lesers om die eer van God hoër te ag as die eer van mense, en met vrymoedigheid te bely dat Jesus God is wat in ons plek gesterf het, en dat Hy ons, wat in Hom glo, se Here oor ons lewe is. Jesus is God se Gestuurde, met die opdrag om met gesag te praat en op te tree in sy Vader se Naam (vgl. Johannes die Doper se getuienis oor Hom in 3:31-36;  en Jesus se getuienis in 6:38; 7:33; 8:16,18; 28-29; 44;  10:36-38). 

 

Hier eindig die vertelling van Jesus se openbare optrede (hoofstukke 1-12). In hoofstukke 13-16 word vertel van Jesus se onderrig van sy enger groep dissipels en sy gelowige volgelinge deur die eeue, deur sy gesprekke met sy dissipels, en in hoofstuk 17 voor hulle deur sy gesprek met sy Vader oor hulle en dié wat deur hulle tot geloof in Jesus sal kom.  

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 

image_pdfimage_print

You may also like...