Die Handelinge van die Apostels: Paulus vertel van sy bekering (Hand 26:12-23) – Francois Malan

image_pdfimage_print

26:12 Na sy verhaal oor sy lewe voor sy bekering, begin die positiewe deel van sy toespraak. Dié berig oor Paulus se bekering is die kortste van die drie berigte daaroor in Handelinge (9:1-19; 22:4-16; 26:12-18). Elkeen van die drie berigte het ’n eie karakter wat aanpas by die gehoor aan wie hy dit vertel. Daar is ook taal- en stylverskille tussen die verhale om nie eentonig te word nie, en byvoegings wat die gebeure al duideliker beskryf. Voor Feliks en Festus (24:11-21 en 25:9) was sy bekering byvoorbeeld nie ter sake nie. Vir hulle het hy net aangetoon dat die Jode se aanklagte teen hom nie waar is nie, en dat die Christendom nie ’n gevaar vir die staat inhou nie. Voor die Jode en Agrippa (22:4-16 en 26:12-18) getuig Paulus van die wonderwerk wat God in sy lewe bewerk het.  

Toe Paulus soos ’n waansinnige die Jode in die buiteland wat in Jesus glo gaan agtervolg het, het hy na Damaskus gereis, met die gesag en volmag van die leierpriesters. Dit is ’n uitbreiding op 9:2 waar hy die hoëpriester om briewe genader het. Volgens 22:5 het hy briewe van die hele Raad ontvang; hier van die leierpriesters wat die dagbestuur van die Sanhedrin was, wat die besluit van die Raad uitgevoer het. Die hoof van die tempelwag het ook op die dagbestuur gedien.

26:13 Soos in 26:2 spreek Paulus Agrippa aan as ‘koning.’ Hoewel sy getuienis in die saal voor almal gelewer word, word dit op Agrippa, wat die leiding geneem het, toegespits. ‘Helder oordag (letterlik: middel van die dag), op pad (na Damaskus), o koning, het ek ’n lig uit die hemel gesien, helderder as die son, wat rondom my en my medereisigers geskyn het…’   Dit is nuwe elemente en bewoordings in Paulus se vertelling wat die verskyning helderder laat uitstaan om Agrippa te oortuig dat Paulus hom nie vergis het nie: ‘in die middel van die dag’ (hêméras mésês) wanneer die son die helderste skyn, teenoor 22:6 se onbepaalde ‘ongeveer die middaguur’ (perì mesêmbrìan) en 9:3 se ‘terwyl hy onderweg was.’  Dat die lig uit die hemel baie sterker as die son was, word hier bygevoeg. Dat die hemelse lig ook rondom sy reisgenote geskyn het, bewys dat dit nie slegs hy is wat die lig gesien het en die ervaring daarvan gehad het nie. Volgens 22:9 het hulle ook die lig gesien, wat nie in 9:7 gemeld is nie.

26:14 ‘Toe ons almal op die grond val’ – in 22:7: ‘ek het op die grond neergeval’ – ‘hoor ek ’n stem wat vir my in die Hebreeuse dialek sê (ter wille van Agrippa voor wie Paulus hier Grieks praat): ‘Saul, Saul, waarom vervolg jy My? Dit is vir jou hard om teen die prikkels te skop.’ Die tweede sin is ’n byvoeging by die vorige berigte. Dit is ’n Hebreeuse spreekwoord uit die boerdery waar beeste met ’n stok met ‘n skerp ysterpunt aangedryf was (vgl 1 Samuel 13:21 se osprikkels – in Hebreeus: dorban). Dit verwys na iemand wat hom teen gesag verset en in die proses homself beseer. Deur Paulus se vervolging van Jesus wat in sy volgelinge woon (Ef 3:17; Joh 14:23), beseer hy homself in sy weerstand teen Jesus soos ’n os wat teen sy eienaar of drywer skop. Jesus was reeds Paulus se eienaar wat hom uitgekies het om aan Hom te behoort (vgl. Jesus se woord aan Ananias in Hand 9:15 ‘Ek het hom uitgekies as instrument om my Naam uit te dra…).

26:15 Terwyl Paulus in die skerp lig op die grond lê, vra hy : ‘Wie is U Here?’ en die Here het gesê: ‘Ek (egō), Ek is (eimi) Jesus vir wie jy besig is om te vervolg (voortdurende teenwoordige tyd).’ Voor die stem uit die hemel erken Paulus dat hy met ’n hemelse wese praat (die ‘Ek is’ van Eksodus 3:14; Joh 8:24,28,58). En met Jesus se antwoord word Paulus oortuig dat Jesus uit die graf opgestaan het en aan die regterhand van God sit, soos die gelowige Jode wat hy vervolg, telkemale bely. Nou weet hy dat Stefanus se laaste woorde, wat hy gehoor het, waar is: ‘Kyk, ek sien die hemele geopen en die Seun van die Mens aan die regterhand van God staan’ (Hand 7:56) en sy gebed: ‘Here Jesus, ontvang my gees’ en sy voorbidding: ‘Here, reken hulle hierdie sonde nie toe nie’ (Hand 7:59-60).

26:16 Paulus se vraag aan Jesus in 22:10 word nie herhaal nie. Jesus se opdrag ‘staan op’ in 9:6 en 22:10 word uitgebrei met ‘en staan op jou voete’ om die sendingopdragte van die Here in verse 16b-18 aan te hoor. Die dubbele opdrag om te staan is soos die Here se opdrag aan Esegiël in hoofstuk 2:1-3. Die volgende opdragte in 26:16-18 vervang die vorige twee berigte in hoofstukke 9 en 22 oor Paulus se blindheid. Hier vertel hy van die gesigte wat hy gesien het. Dit stem in ’n mate saam met die Here se opdrag aan Ananias wat hy aan Paulus oorgedra het oor sy uitverkiesing om die Regverdige te sien en te hoor (Hand 22:14-15).

Die eerste opdrag: ‘Ek het aan jou verskyn omdat jy reeds vantevore aangestel is as dienskneg en getuie van wat jy reeds (van My – in Vaticanus en nie in Sinaïticus nie) gesien het en nog sal sien wanneer Ek aan jou sal verskyn’ (Hand 18:9; 22:17-21; 23:11; 2 Kor 12:1-4,7). Die Here het Paulus reeds vantevore ‘aangestel vir ’n spesifieke doel’ (procheirízomai). Daaroor skryf Paulus in Galasiërs 1:15 ‘Toe dit God behaag het – Hy wat my afgesonder het van voor my geboorte af (letterlik: uit my moeder se baarmoeder) en deur sy genade my geroep het – om sy Seun aan my te openbaar sodat ek Hom onder die heidene sou verkondig.’ Op die pad na Damaskus het die Here vir Paulus in sy diens aangestel as sy ooggetuie wat die opgestane Christus aan die regterhand van God gesien het (vgl. 1 Kor 15:8). Die ander apostels was ooggetuies net tot by Jesus se hemelvaart; Johannes het later op Patmos Hom aan die regterhand van God gesien (Openb 5:6-7; 6:1; 14:1,14; 22:8,16). 

26:17 Die Here se belofte en tweede opdrag: ‘Ek sal jou red/bevry uit die gevaar van die volk (laós volk van Israel) en van die heidene (nie-Jode ta ethnê) na wie Ek jou stuur…’ So het die Here ook aan die jong Jeremia belowe en hom uitgestuur (Jer 1:7-8; vgl. Gal 1:15-16,9 en 1 Kron 16:35). Om God en Christus se getuie te wees, hou ook gevaar en lyding in (9:16). Dit is die opgestane Jesus en die Vader wat met hulle goddelike gesag vir Paulus uitgekies en uitgestuur het. Dit is die basis van Paulus se geloof en die grond vir sy sekerheid oor sy roeping (vgl. Gal 1:1; 1&2 Kor 1:1;  Rom 1:1; Ef 1:1; Kol 1:1; 1&2 Tim 1:1; Tit 1:1).

26:18 Die doel van God met Paulus se sending na Israel en die heiden nasies word uitgebrei met die inhoud van sy diens: om hulle oë te open sodat hulle van die duisternis kan omdraai na die lig toe (epistréfō beteken om jou geloof en jou lewenswyse te verander met die fokus op waarheen jy moet draai, naamlik na God toe). In Jesaja 42:6-7,16 word dit van die Dienskneg van die Here gesê. Jesus is die ware Lig wat elke mens verlig (Joh 1:9), sodat hulle goeie lewe die lig vir die wêreld word (Matt 5:14-16; Ef 5:8; 1 Petr 2:9).

Die omkeer word in die volgende sin verduidelik as uit die mag of seggenskap (eksousía) van die Satan oor jou lewe na God toe. Satan is die Hebreeus-Aramese woord vir ‘teenstander’ wat die persoonsnaam vir die duiwel is. Hy is die teenstander van God. Paulus skryf later aan die Kolossense dat God hulle uit die mag van die duisternis gered het en verplaas het na die koninkryk van sy geliefde Seun (Kol 1:12-13). 

Hoe dit gebeur, word in die laaste sin verduidelik: deur hulle geloof in Jesus ontvang hulle vergewing van hulle sonde (weg van die duisternis af) en ontvang ’n erfdeel saam met die geheiligdes in die lig. Omdat hulle verhouding met God reggemaak word, is hulle kinders van God en mede-erfgename deur hulle geloofsband met die Seun van God (Rom 8:16-17; vgl Kol 1:13-20). So verduidelik Paulus die evangelie aan Agrippa, die goeie boodskap van Christus. Dit is Paulus se werk waarvoor God self hom geroep het en aan hom die opdrag gegee het om dit te verkondig.

26:19 Met die aanspreekvorm: ‘Koning Agrippa’ beëindig Paulus die opdrag wat Jesus aan hom gegee het. Hy verduidelik dat hy nie aan die opdrag wat hy in die visioen gekry het ongehoorsaam was nie – die dubbele negatief ‘nie ongehoorsaam’ is bedoel om ’n baie sterk verklaring te maak ‘ek het die opdrag verseker gehoorsaam.’ ’n Boodskap uit die hemel, moet ten alle koste gehoorsaam word. Dit is die regsgrond van die Christelike sending. Petrus en Johannes het aan die Sanhedrin gesê: ‘Of dit reg is voor God om eerder na julle te luister as na God, moet julleself oordeel’ (Hand 4:19) en later ‘ons moet eerder aan God gehoorsaam wees as aan mense’ (Hand 5:29). Die Jode het geweet van opdragte van God en van die Engel van die Here uit die hemel aan bv. Abraham (Gen 22:1-2; 12, 15-18), Jakob (Gen 28:12-17) Laban (Gen 31:24,29), Moses (Eks 3), Jesaja (Jes 6), Jeremia (Jer 1), ens. God se opdragte was die fondament van die Joodse godsdiens. En nou het God sy wil en verlossingsplan aan Paulus bevestig en kan Paulus nie anders as om God se opdrag te gehoorsaam nie.

26:20  Die doel van Paulus se opmerkings in hierdie teks is juis om te wys dat sy prediking presies dieselfde is as die boodskap van die Profete en Moses (die hele Ou Testament, Hand. 26:22): bekering (metanoéō jou lewenswyse te verander as gevolg van ’n totale verandering van gedagte en houding oor sonde en hoe om jou verhouding met God reg te maak),en terugkeer (epistréfō) tot God en doen van werke wat by die bekering pas (vgl. Ef 2:10; Titus 2:14; 3:8). Johannes die Doper het al by die Jode aangedring om vrugte te dra wat by die bekering pas (Luk 3:8). Die belofte van die Here was dat Hy Paulus sal red uit sy volk en van die heidene na wie Hy vir Paulus stuur (26:17). Hier vertel hy aan Agrippa aan wie en waar hy sy opdrag vervul het: Damaskus (in die Joodse sinagoges, 9:19-20), Jerusalem (ook onder die Griekssprekende Jode 9:28-29), die hele landstreek van Judea (wat nie spesifiek in Handelinge bespreek is nie) en aan die heidene (tydens sy drie sendingreise (Hand 13, 16-21).

26:21 Die Jode het hom in die tempel gearresteer en probeer doodmaak. Dit was oor sy prediking dat die Jode ook tot bekering moet kom soos hulle van die heidene verwag het, ’n totale omkeer van hulle lewe, uit die duisternis na die lig; onder die heerskappy van die Satan uit na ’n lewe in vertroue op God (26:18). Omdat hulle kinders van Abraham was, het hulle geglo dat bekering nie vir hulle nodig is nie en dat hulle nie kinders van die duiwel is nie (vgl. egter Jesus se woorde in Joh 8:12,44). Hulle het gedink hulle lewe voor God is reg met hulle eie goeie werke, maar Johannes die Doper en Jesus het juis by hulle op bekering aangedring (Mark 1:4, 15) om vergewing van sonde te verkry deur in Jesus te glo. Om die kontras tussen die Jode en God se optrede teenoor Paulus te beklemtoon gebruik Lukas twee woorde met verskillende voorvoegsels vir twee teenoorgestelde handelinge wat met die woord ‘hand’ (cheír hand, in die mag van iemand) gevorm is: Die Jode wou Paulus doodmaak diacheirízomai; God het hom vooraf al vir ’n spesifieke doel uitgekies procheirízomai. In Galasiërs 1:15 sê Paulus dat God hom reeds voor sy geboorte afgesonder het vir die spesifieke taak (vgl Hand. 26:16).

26:22 Te midde van die Jode se knaende vervolgings en moordpogings ervaar Paulus tot op hierdie dag die hulp van God, soos die Here volgens 26:17 beloof het. Net daarom kan hy hier staan en getuig voor klein en ook groot (’n Semitiese uitdrukking vir alle mense oral op dieselfde wyse). Hier verwys dit ook na almal in die saal wat na hom luister en na die grotes/ soos Festus en Agrippa. Hy verkondig ook niks anders as wat die Profete gesê het gaan gebeur nie, en ook die woorde van Moses – Moses se woorde verwys na die eerste vyf boeke van die Bybel en die Profete na die res van die Ou Testament. Dit gaan hier in die besonder oor die toekomsverwysings in die Ou Testament, en die verwagting van die koms van ’n Gesalfde (Messias in Hebreeus en Christus in Grieks): gesalf as ’n profeet soos Moses (Deutr 18:15,18; Hand 3:22-24; 7:37), ’n koning soos Dawid (2 Sam 7:13,16,19; vgl. Dan 7:13-14 die Seun van die Mens se ewige heerskappy), ’n priester in die priesterorde van Melgisedek (Ps 110:1,4). Paulus bring juis die goeie nuus dat die beloofde Messias van die Jode gekom het in die Persoon van Jesus die Christus, die Here, God met ons (Immanuel van Jesaja 7:14, vgl. Matt  1:23).

26:23 Die inhoud van hierdie vers verduidelik wat Paulus beskou as die boodskap van die Profete en Moses nadat hy die opgestane Jesus in die hemel ontmoet het op die pad na Damaskus. Die verwagte Christus moes kom ly as die goddelike Hoëpriester wat Homself offer om die sonde van die wêreld op Hom te neem om ons met God te versoen – vgl. die vergewing van sonde in Hand 26:18 (Joh 1:29,36). Hy het as eerste uit die dood opgestaan as oorwinnaar oor God se doodstraf op die sonde (Gen 2:17; 3:19) – sodat ons ’n erfdeel saam met die geheiligdes kan kry (Hand 26:18). Daar was wel opwekkings uit die dood, maar dan van mense wat weer op aarde gelewe het en later weer gesterf het (vgl.1 Kon 17:21-22; 2 Kon 4:32-36; Joh 11:43-44). Jesus se opstanding is vir ewig en almal wat in Hom glo sal lewe omdat hulle aan Hom en sy opstanding verbind is (vgl 1 Kor 15:21-23). Dat die Christus moes ly en moes opstaan, verwys na God se plan vir die verlossing van die mensdom (Ef 1:3-14 ). Om aan sy volk en aan die heidene die lig te verkondig, verwys terug na Jesaja 9:1-6 wat in Jesus vervul is, na God se redding van Jode en nie-Jode as die lig wat verkondig en geglo moet word deur hulle wat in die duisternis lewe (Hand 26:18).

Skrywer:  Prof Francois Malan

image_pdfimage_print

You may also like...