Die Israeliete trek deur die Rooisee (1)

image_pdfimage_print

You do not fall because you are weak, you fall because you think you are strong.” ~ Joodse Spreekwoord

Die Israeliete trek deur die Rooisee (1)

In Eksodus 14 kry ons een van die hoogtepunte van Israel se uittog uit Egipte – die deurtog deur die Rooisee. In die Ou Testament  kry ons meer as 20 direkte verwysings en heelwat indirekte verwysings na hierdie gebeurtenis. Ook in die Nuwe Testament  kry ons sekere betekenisvolle stellings:

  • Matteus 2:15: So is vervul wat die Here deur ‘n profeet gesê het: “Uit Egipte het Ek my Seun geroep.”  Die profeet waarna hier verwys word, is Hosea. Hosea 11:1 het na die uittog verwys; die seun in Hosea verwys na Israel. Hier verbind Matteus die werk van Jesus direk aan die uittog.
  • Tydens Jesus se verheerliking op die berg (Lukas 9) lees ons van twee manne wat met Jesus praat. Dit was Moses en Elia: Hulle het in hemelse glans verskyn en met Hom gepraat oor sy uittog wat Hy in Jerusalem sou voltooi. Uittog hier verwys sekerlik na Jesus se dood. Lukas sê dat dit wat Jesus in Jerusalem reggekry het die eksodus is.
  • In Hebreërs 3:1 – 6 lees ons dat Jesus meer is as Moses. Moses was ‘n getroue dienaar in die huis van God. Christus, daarenteen, is as Seun getrou oor die huis van God. Moses wys na Jesus.
  • Hebreërs 11 praat oor die Christelike geloof. Die skrywer gebruik die deurtog deur die Rooisee as ‘n beeld van Christelike geloof: Omdat die Israeliete geglo het, het hulle deur die Rooisee getrek soos oor droë grond (vers 29).
  • In 1 Korintiërs 10 waarsku Paulus teen afgodery: Broers, ek wil julle daaraan herinner dat ons voorvaders almal onder die beskerming van die wolk was en almal veilig deur die see gegaan het. Omdat hulle almal vir Moses gevolg het, is hulle almal in die wolk en in die see gedoop …Hierdie dinge het gebeur as voorbeelde vir ons dat ons ons nie soos hulle deur sondige begeertes moet laat dryf nie (vers 1 – 2, 5).

Wat kan ons uit hierdie deurtog deur die Rooisee van Jesus Christus en verlossing leer? Drie dinge:

  • Ons trek uit gebondenheid/slawerny – lae en lae bande wat ons vasbind.
  • Ons trek uit deur genade.
  • In die proses het ons ‘n Middelaar.

In die volgende paar blogs gaan ons verder na hierdie drie aspekte kyk.

image_pdfimage_print

You may also like...