Die Handelinge van die Apostels: Petrus se preek (deel 2; Hand 2:22-28) – Francois Malan

image_pdfimage_print

2:22  ‘Israeliete! (letterlik ‘manne Israeliete’) luister na hierdie woorde.’ Dit is met Israel wat die Here die ou verbond gesluit het. Nou moet hulle hoor oor God se nuwe verbond van genade. Petrus vra sy gehoor ’n tweede keer (v14) om te luister; hier ná sy verduideliking van Joël se profesie oor tekens en wonders (v19). Hy pas hierdie profesie toe op Jesus van Nasaret – die naam op die bordjie aan sy kruis volgens Johannes 19:19. Hy was ’n man wat God aan hulle oortuigend bewys het dat Hy eg is; dat Hy deur God gestuur is (apodedeigmenon as eg bewys). Die perfektum vorm van die deelwoord beteken dat die kragtige dade (1:8), wonders en tekens (2:19) wat God in hulle midde deur Hom gedoen het steeds geld as bewyse dat God deur Jesus gewerk het; soos hulle self weet – hulle was ooggetuies daarvan. Jesus, van die veragte dorpie Nasaret, is die einddoel van die profesie. Hy is die gewer van die Gees wat op sy volgelinge uitgestort is, waarvan Joël geprofeteer het (v18,33). Hy is die Here wat aangeroep moet word om redding te verseker (2:21).

2:23 Na Petrus se eerste woord oor die goddelike herkoms van Jesus, stel die tweede Jesus se dood aan die orde. Dit was lank reeds God se plan vir die redding van die mens (Hand 4:28; Rom 8:32). ‘Julle het hierdie man (Jesus), wat God volgens sy vasbeslote plan en voorkennis oorgegee het, doodgemaak, deur Hom te laat kruisig deur die hande van wettelose mense.’  Sy dood is deur God gewil maar is die Jode en hulle heidense werktuie se skuld. Die Jode het sy dood gevra en dra daarom die volle verantwoordelikheid vir sy dood. Maar alles het geskied volgens die raadsplan van God om mense te red (Hand 2:21).

2:24 God se raadsplan hou egter meer in as net Jesus se dood. God het Hom opgewek en van die erge lyding (soos van geboortepyne, ōdinas) van die dood bevry (2 Sam 22:6 verwys na bande van die doderyk en strikke van die dood; Ps 18:5-6 na bande van die dood en vangstrikke van die dood; Ps 116:3 bande van die dood, angste van die doderyk). ‘…omdat dit onmoontlik was dat Hy daardeur (deur die dood) vasgehou word.’ Die rede waarom dit onmoontlik was, is vir Petrus bloot omdat dit in die woord van God geskryf staan (in Ps 16:8-11 volgens die Griekse vertaling van die Ou Testament, die Septuaginta).

Psalm 16 as heenwysing na Jesus (Hand 2:25-28)

2:25-28 Die tweede aanhaling in Petrus se toespraak kom uit Psalm 16:8-11. Hoewel dit hier en daar van die Hebreeuse teks verskil kom dit woordeliks uit die Griekse vertaling, sonder die laaste sin van vers 11 in die Septuaginta. Ps 16 is eintlik ’n loflied van ’n vrome wat die Here dank dat hy bewaar is van ’n vroeë dood en dat die Here aan hom gewys het hoe ’n opregte mens moet lewe. In Petrus se preek kry die woorde ’n nuwe betekenis as ’n profesie van Dawid oor die opstanding van die Messias. Die rabbi’s het reeds die woorde van Ps 16 gesien as ’n profesie van Dawid dat hy, Dawid, wonderbaarlik nie vroeg sal sterf nie. Die Ou Testament het baie min oor die lewe ná die dood, en praat meestal net van ’n lang lewe.

2:25 Volgens Petrus het Dawid in Ps 16 oor Christus gesê: ‘Ek (Dawid) het die Here gedurig (letterlik: deur alles) voor my gesien (prooraō Hom duidelik in my gees gesien), want Hy is aan my regterkant sodat ek nie wankel nie (saleuthō heen en weer geskud word nie).’ ’n Soldaat het sy skild in die linkerhand gedra en was aan sy regterhand onbeskermd. Die Here was Dawid se skild aan sy regterhand om hom deurgaans te beskerm en hy was onder alle omstandighede bewus van die Here se teenwoordigheid. So was Jesus ook tydens sy aardse lewe deurentyd bewus van sy Vader se teenwoordigheid, vgl. Joh 8:29; 14:10-11; 17:21.

 2:26 Omdat Dawid geborge voel in die teenwoordigheid van die Here juig hy in sy hart, jubel sy tong, en sal sy liggaam veilig in hoop bly voortlewe (kataskênoō tent opslaan, nes bou, tot rus kom), in die hoop op wat God met hom sal doen. Vir die mense van die Ou Testament het die hoop beteken dat hulle nie gou sal sterf nie. Vir die mense van die nuwe verbond verwys dié hoop na die opstanding uit die dood, omdat Jesus uit die dood opgestaan het en die doodstraf van God oor ons sonde, self gedra het (Rom 6:8-11; 1 Kor 15:3,20-23). Volgens Petrus het Dawid dit van Jesus gesê, en gebruik Petrus Ps 16 as ’n profesie oor Jesus se opstanding uit die dood.

2:27 Vir Dawid het die woorde beteken dat hy nie ’n vroeë dood verwag nie, want die Here sal nie sy lewe aan die doderyk oorlewer nie, en nie toelaat dat sy getroue volgeling die graf sien nie. Die Septuaginta, wat hier aangehaal word, het dit vertaal met oorlaat – sy lewe nie laat agterbly in die doderyk nie, wat ’n opstanding uit die dood suggereer. In plaas van Ps 16 se ‘u getroue volgeling’ het die Septuaginta ‘u heilige.’ Petrus sê dat Dawid oor Jesus gepraat het, en  ‘u heilige’ van die Septuaginta verwys vir Petrus na Jesus as God se Heilige Seun, wat aan die Vader toegewy is. Ps 16 sê ‘U sal nie toelaat dat u getroue volgeling die graf sien nie. In die Septuaginta wat deur Handelinge aangehaal word is dit ‘u sal u Heilige nie ontbinding (diafthoran) laat beleef nie,’ wat ook die moontlikheid van ’n opstanding uit die dood veronderstel. Die Septuaginta, wat ’n Hebreeuse teks sonder vokale vertaal het, het die Hebreeuse sjgt vir sjagat ‘graf,’as sjigeet ‘verderf’ gelees. Die Septuaginta is ongeveer 200 jaar voor Christus uit Hebreeus in Grieks vertaal, maar die Masorete het eers na 500 n.C. die vokale begin byskryf by die Hebreeuse konsonante. 2:28 Die Hebreeus se ‘pad wat tot die lewe lei’ wat die Here aan Dawid bekend gemaak het, verwys na die lewe van sy getroue volgeling wat vir die Here welgevallig is en hom daarom van ’n vroeë dood weghou. Die ‘paaie van die lewe’ van die Septuaginta verwys na die opstandingslewe van Jesus en sy volgelinge. ‘Deur u teenwoordigheid sal U my met blydskap vervul’ kan verwys na Jesus se blydskap om by sy Vader te wees, maar ook na die vreugde van die gelowiges oor die teenwoordigheid van God die Heilige Gees by hulle en hulle uitsig op die ewige lewe by God.

Skrywer: Prof Francois Malan

image_pdfimage_print

You may also like...