Geloofsvrae: Die uitverkiesing

image_pdfimage_print

Geloofsvrae: Die uitverkiesing – Adrio König

Die uitverkiesing

`Is ek uitverkies of nie? As ek is, word ek salig; as ek nie is nie, is ek verlore.’ Daar is inderdaad mense wat só oor die uitverkiesing dink. Is dit ‘n troos of ‘n bedreiging? Dit laat ‘n mens in elk geval in totale onsekerheid behalwe as jy iewers kan uitvind of jy uitverkies is. Maar waarskynlik sal ‘n mens te bang wees om navraag te doen, want sê nou jy is nie uitverkies nie?

Die leer oor die uitverkiesing hoort by die voorsienigheidsleer. Calvyn se voorsienigheidsleer (albeskikking) kan net een siening van die uitverkiesing oplewer: God het voor alle tyd voorbeskik presies wie gered sal word en wie verlore sal gaan, en dit sonder om enigsins enigiets in hierdie persone in ag te neem. Hy het selfs beskik hoe en wanneer elke uitverkorene tot geloof sal kom, en hoe, wanneer en waarom elke verworpene die evangelie sal verwerp.

Net so impliseer die leer oor die toelating van God (Armenius) ook ‘n bepaalde siening van die uitverkiesing. God wat alles vooruit sou weet, het vooraf geweet wie sal glo en wie sal die evangelie verwerp. Hy het dus almal uitverkies wat sal glo, en almal verwerp wat nie sal glo nie.

Al is daar heelwat verskil tussen dié twee sieninge, het hulle in elk geval in gemeen dat alles vooraf vaslê, dat daar geen egte geskiedenis is nie, maar net ‘n toneelstuk wat opgevoer word. Dit is egter ‘n vreemde gedagte wat nie te rym is met die groot lyne in die Bybel.

As ons na die Bybelse stof oor die uitverkiesing gaan kyk, word dit gou duidelik dat daar ‘n paar misverstande moontlik is. Eerstens sou die blote feit dat daar uitverkorenes is, impliseer dat daar ook verworpenes moet wees. As God sommige uitverkies het, moes Hy noodwendig ander verwerp het. Tweedens sou daar niks kon verander aan die posisie van uitverkorenes en verworpenes nie. Wie uitverkies is, sal gered word én gered bly, en wie verworpe is, sal verlore gaan sonder dat enigiemand iets daaraan kan verander. En derdens sou dit in die uitverkiesing net om individue gaan.

Die uitverkiesing werk nie so dat God sekere mense uitverkies en daarom ander verwerp nie. God kies nie net sekere mense uit omdat Hy nie in almal belangstel nie. God kies ‘n groep mense uit (en nie in die eerste plek individue nie) tot diens. Hierdie diens is dat hulle die ander moet nadertrek sodat hulle ook deel van die uitverkore groep kan word.

In die OT is Israel die uitverkorenes (Deut 7:6ev; 14:2; 1Kron 16:13; Ps 105:6,43; Jes 41:8ev; 43:10,20; 65:9). Hulle is met ‘n doel uitverkies. In Gen 1-11 lees ons hoe God aanvanklik direk by die hele wêreld betrokke was. As dit nie op die bekering van die nasies uitloop nie, kies Hy in Gen 12 vir Abraham, nie omdat Hy sy belangstelling in die hele wêreld verloor en nou net op ‘n klein groepie wil konsentreer nie. Duidelik sê Hy vir Abraham: `In jou sal al die volke van die aarde geseën wees’ (12:3). Dit beteken dat Hy deur Israel op ‘n nuwe manier by alle volke betrokke wil wees. Israel word dus uitverkies sodat God deur hulle alle volke na Jerusalem kan trek (Jes 2:2-5).

Die taak van `die dienaar van die Here,’ wat aanvanklik Israel self was, was dan ook om God se wil aan alle nasies bekend te maak sodat God se reddingsdade die uithoeke van die aarde sal bereik (Jes 42:1,4; 49:3,6).

Uitverkiesing was dus die verkiesing of aanstelling van ‘n groep tot ‘n taak, ‘n sendingtaak. Dit was ‘n verantwoordelikheid wat Israel moes uitvoer of anders onder die oordeel van die Here kom.

En verwerping? Daar is duidelik van verwerping sprake in die OT. Dit is egter nie die nasies wat verwerp word nie, maar die uitverkore volk wat met verwerping gedreig word as hulle nie aan die Here gehoorsaam is nie. In heelwat van die gevalle is daar ‘n verband tussen die volk wat die Here verwerp en die volk wat deur die Here met verwerping gedreig word. Hy dreig om sy uitverkore volk te verwerp omdat hulle Hom verwerp.

In 2Kon 17 kry ons die redes vir die ballingskap van die tien stamme (`Israel’). Omdat hulle die voorskrifte en die verbond van die Here verwerp het (15), het die Here hulle verwerp en in ballingskap laat gaan (20ev). In 2Kon 23 lees ons van Juda: `Ek sal Juda ook uit My teenwoordigheid verwyder, net soos Ek Israel verwyder het. Ek sal hierdie stad, Jerusalem, wat Ek uitverkies het, verwerp …'(27).

Daar is dus nie twee groepe mense: die uitverkorenes en die verworpenes nie. Die uitverkorenes word met verwerping bedreig, nie die heidene nie. In Rom 11:15 lees ons dan van Israel se verwerping. Natuurlik bly die deur van genade oop. `As hulle nie in hulle ongeloof volhard nie, sal hulle ook geënt word, want God is in staat om hulle terug te ent’ (11:23).

Daar is soms in die OT sprake van ‘n individu wat uitverkies is, maar dit is gewoonlik iemand wat ‘n ander verteenwoordiger van die volk is soos die koning.

Omdat die kerk direk by Israel aansluit (Rom 11:17ev), is dit nie vreemd dat ook in die NT die gelowiges as groep `die uitverkorenes’ genoem word nie (Kol 3:12; 1Tes 1:4) en dat die doel van die verkiesing baie ooreenkom met dié van Israel in die OT: `Julle is die uitverkore volk … die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig’ (1Pet 2:9). Dit is dus nogeens verkiesing tot diens. Dit sien ons ook by die verkiesing van die twaalf dissipels (nogeens ‘n groep): `Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrugte te dra’ (Joh 15:16).

Daar is gedeeltes van die NT wat volgens sommige steun bied vir die soort uitverkiesingsleer van Calvyn: dat God sonder enige bekende rede besluit het om sommige te red en ander verlore te laat gaan. Een van hierdie gedeeltes is die bekende Rom 9-11. Ongelukkig word Rom 9 dikwels op sigself geneem sonder om genoeg aandag te gee aan die verband waarin dit voorkom, Rom 9-11. Sodra ‘n mens dit doen, word ‘n paar dinge duidelik.

Die eerste is dat dit duidelik is waarom God sommige verkies en ander verwerp. As 9:18 lui dat God Hom ontferm oor wie Hy wil, en dat Hy verhard wie Hy wil, beteken dit volgens 9:30ev dat Hy Hom ontferm oor die heidene wat die evangelie glo, en die Jode verhard wat deur die wet geregtigheid soek. Die antwoord op die vraag waarom hulle nie die geregtigheid gekry het wat hulle gesoek het nie, is belangrik: Nie omdat God hulle nie uitverkies het nie, maar: `omdat hulle nie op die geloof wou bou nie’ (32). Dit is dus duidelik waarom God Hom oor sekere mense ontferm (omdat hulle glo), en ander verhard (omdat hulle nie wil glo nie). Die slotsom van Rom 11 is presies dieselfde. Israel is die mak takke wat uit die mak olyfboom uitgekap is omdat hulle nie geglo het nie, en die heidene is ingeënt omdat hulle glo (11:20).

Dit is dus duidelik oor wie God Hom ontferm en waarom, en wie Hy verhard en waarom.

Die ander uitspraak is Mt 22:14: `Baie is immers geroep, maar min uitverkies.’ Dit skyn asof hierdie uitspraak die siening steun dat die Here willekeurig uitkies wie Hy wil, en dat dit selfs nie eens help as ‘n mens die evangelie hoor (geroep word) nie. As jy nie uitverkies is nie, sal jy in elk geval verlore gaan. Hierdie uitspraak kan egter nie hierdie betekenis hê nie.

Hierdie uitspraak is die slotsom van drie gelykenisse (Mat 21:28-22:13). Aldrie het te doen met die reaksie van die Jode op God se uitnodiging. In die eerste geval het ons die seun wat `ja’ sê maar `nee’ doen, in die tweede geval die huurders van die wingerd wat die slawe mishandel wat die eienaar se deel kom haal, en in die derde geval die genooides wat nie die uitnodiging na die bruilof aanvaar nie.

Die slotsom van dié drie gelykenisse is nou: `Baie is immers geroep, maar min is uitverkies.’ Wat beteken dit? Die punt van die gelykenisse is dat mense nie reageer op die Here se roepstem nie. Hy roep, maar hulle kom nie. Uit die gelykenisse is dit sondermeer duidelik dat dit hulle eie skuld is dat hulle nie kom nie. Dit sou vreemd aan die gelykenisse wees, en selfs heeltemal teen die trant in, om ‘n verskuilde rede te veronderstel waarom hulle nie kom nie, soos: omdat hulle nie uitverkies is nie, of omdat God hulle nie wil red nie.

Dat hulle geroep is, is duidelik. Dat hulle nie uitverkies is nie, kan dus net beteken dat hulle nie wil kom nie en daarom nie deel van die uitverkorenes word nie. ‘n Mens moet dus kom, dan word jy deel van die uitverkorenes, die gemeente, en dan is jy uitverkies. So nie, is jy nie uitverkies nie.

‘n Slotopmerking kan verhelderend wees. Dit is duidelik dat dit in die uitverkiesing gaan om die manier waarop God die wêreld wil bereik. Op ‘n enigsins oorvereenvoudigde manier sou ‘n mens God se uitreik na die hele wêreld soos volg kon saamvat.

Daar is drie stadiums. In Gen 1-11 is God direk by alle mense betrokke. Dit loop telkens op ‘n teleurstelling uit waarvan die sondvloed en die toring van Babel die hoogtepunte is. Dan besluit God om ‘n nuwe plan te volg. Hy kies Abraham om deur hom alle volke te seën (Gen 12:3). Hy wil dit doen deur Abraham en sy nageslag, Israel, só te seën dat alle volke na Jerusalem sal stroom en Israel se God as die ware God sal erken (Jes 2:1-5).

Maar oor ‘n tydperk van waarskynlik meer as 2000 jaar blyk dit hoe langer hoe meer dat Israel so ontrou is aan Hom dat Hy hulle meer moet straf as seën, sodat die omringende volke sy Naam begin spot omdat dit so sleg gaan met sy volk (Eseg 36:16ev). Die Here wend dan ‘n laaste poging aan om hierdie plan met Israel te laat slaag. Hy stuur ‘n unieke verteenwoordiger wat by die volk kom pleit om aan Hom getrou te wees – Jesus. Daarom is Jesus aanvanklik op Israel gerig en nie op die heidene nie (7.4). As hulle hul sou bekeer, kon God sy plan uiteindelik deurvoer om deur hulle die heidene na Jerusalem te lok.

Eers as die godsdienstige leiers en die volk Jesus verwerp en kruisig, wend Hy Hom deur die dissipels direk na die heidene om hulle te red – en deur hulle Israel jaloers te maak en ook in te bring (Rom 11:11ev). Van tyd tot tyd word verskillende groepe dus uitverkies om God se doel te bereik: om alle mense in sy gemeenskap (verbond) in te trek.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning

 

Skrywer: Prof Adrio König

image_pdfimage_print

You may also like...