Ses waarhede van gebed

image_pdfimage_print

 

There can be no greater glory for man than to glorify God. —J.I. Packer

 

Ses waarhede van gebed

  • Ons bid in geloof

Markus 11:22 – 24: 22Jesus sê toe vir hulle: “Julle moet geloof in God hê! 23Dit verseker Ek julle: Elkeen wat vir hierdie berg sê: ‘Lig jou op en val in die see,’ en daarby nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, gebeur, vir hom sal dit gebeur. 24Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees. Die klem in hierdie gedeelte val op geloof in God. Dit beteken ons verwag dat God sy beloftes gaan vervul. Ons is dikwels geneig om God se woord in twyfel te trek.

Daarom sê Jakobus: Julle kry nie, omdat julle nie bid nie (4:2).

 

  • Sonde belemmer ons gebede

As daar sonde in my hart was, sou die Here nie geluister het nie (Psalm 66:18). Die psalmis besef dat sonde sy gebede kan belemmer. As ek weet dat daar iets skeel in my verhouding met God – een of ander sonde waarvan ek nie bereid is om afstand te doen nie – kan ek nie verwag dat God my gebede sal beantwoord nie. God verwag nie dat ek volmaak moet wees voor Hy my gebede  antwoord nie, maar my gesindheid en bereidwilligheid om afstand van my sonde te doen, is belangrik.

 

  • Ons gebede word deur God in ooreenstemming met sy wysheid en plan beantwoord

Die aand in Getsemane bid Jesus dat God die lydensbeker van Hom sal wegneem. Maar dan voeg Hy by: Moet nogtans nie doen wat Ek wil nie, maar wat U wil (Markus 14:36). Selfs Jesus was bereid om Hom aan die wil van die Vader te onderwerp. Dit is die volmaakte voorbeeld van wat ons gesindheid moet wees as ons God in gebed nader. Die faktor wat bepaal hoe ons gebede beantwoord word, is God se soewereine wysheid en plan.

 

  • Ons moet volgens God se wil bid

Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word (Johannes 14:13). Hierdie vers sê dat wat ons vra God moet verheerlik. Dit beteken meer as om my gebede af te sluit met in die Naam van Jesus Christus.  As ek in Jesus se Naam bid, beteken dit dat ek weet wie Hy is en dat ek geloof en vertroue in Hom as die Seun van God het. As ek egter gebed so gebruik dat dit nie vir God verheerlik nie, moet ek nie verbaas wees as my gebede nie beantwoord word nie. As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig (Jakobus 4:3). En nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan, omdat Hy ons gebede verhoor as ons enigiets volgens sy wil vra (1 Johannes 5:14).

 

  • Ons kan God altyd in genade nader

Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word (Hebreërs 4:16). ‘n Nederige gesindheid laat ons toe om God se genade en barmhartigheid te ontvang. Al voel ek dat ek niks verdien nie, kan ek nog steeds na God in gebed gaan en genade en barmhartigheid ontvang.

 

  • Volhard in die gebed

In Lukas 18 vertel Jesus vir sy dissipels die gelykenis van die weduwee en die regter. Hoekom vertel Hy dit? Om duidelik te maak dat ‘n mens altyd moet aanhou bid sonder om moedeloos te word.

 

 Ses basiese waarhede oor gebed wat ons ongelukkig dikwels vergeet.

 

 

image_pdfimage_print

You may also like...