Die Handelinge van die Apostels: Stefanus kla die Raad aan (Hand 7:51-53) – Francois Malan

image_pdfimage_print

7:51 ‘Hardnekkiges en onbesnedenes van harte en ore…!’ So beskuldig Stefanus die Joodse Raadslede wat almal besnede Jode is, maar in hulle verstarde denke en ongehoorsaamheid aan die Here, onbesnedenes van hart en ore is. Stefanus pas sy lang relaas oor die vaders se hardnekkigheid op die Raad toe. Hulle het harde koppe, met heidense harte en heidense ore en weerstaan altyd die Heilige Gees. Hulle hoor nie en is nie oop vir oortuiging nie. Hulle nekke is hard en wil nie buig voor die woord van God nie. Hulle ken die woord van God wat nou weer tot hulle gekom het deur die Heilige Gees wat die woorde vir Stefanus gegee het. Sy getuienis was ‘n oorsig oor die volk se dwase optrede teen Josef en Moses, mense wat die Here gestuur het om hulle te red. Die Septuaginta gebruik ook die woord ‘hardnekkig’ (sklêrotráchilos) vir Israel wat die goue kalf aanbid het terwyl Moses die wet van die Here op Sinaiberg ontvang het (Eks 33:3,5). Die woorde ‘onbesnede hart’ (kardía aperítmêta in Lev 26:41) en onbesnede ore (aperítmêta ōta in Jer 6:10) word ook deur die Septuaginta gebruik. In Jesaja 63:10 sê die profeet dat die volk van die Here, wat deur die Here teruggebring is ná hulle Babiloniese ballingskap, in opstand gekom het teen die Heilige Gees. In Numeri 27:14 gebruik die Septuaginta ook die woord ‘weerstaan’ (antipíptō) vir die volk se optrede teen die Here. So het die Raad nou die Heilige Gees weerstaan met hulle verwerping van die apostels se getuienis oor Jesus. Al die woorde wat Stefanus gebruik vir die Raad se teenstand teen Jesus, is aan die Raad bekend uit wat die Ou Testament oor hulle vaders se teenstand teen die Here en sy Gees sê. Die Gees het juis gekom om van Jesus te getuig deur die getuienis van Jesus se volgelinge in wie Hy kom bly het (Joh 15:26-27 en 14:17).

7:52 Met sy retoriese vraag dring Stefanus daarop aan dat die Raadslede nadink hoe hulle vaders opgetree het teen die boodskappers wat die Here na hulle gestuur het. Die ware profete het altyd ’n woord van die Here vir sy volk gebring as die volk die wet, wat die Here deur Moses aan hulle gegee het, oortree het en hulle rug op die Here gedraai het. Daarmee het hulle die verbond verbreek wat die Here met hulle gemaak het om hulle God te wees (Gen 17:7; vgl. Lev 26 se seëninge en strawwe). In sulke tye het die volksleiers en priesters vóór geloop deur die Here se pad te verlaat en die profete te vervolg. Vergelyk Elia se klag in 1 Kon 19:10; die beskrywing in 2 Kron 36:14-16;Daniël 9:6 se belydenis; die volk wat uit ballingskap teruggekom het se belydenis oor hulle voorvaders (Neh 9:26); Jesus se aanklag in Lukas 13:34. Hulle het die profete doodgemaak, vgl. bv. Josia wat die Here se boodskapper Sagaria met klippe laat doodgooi het. Sagaria was die seun van die priester Jojada wat vir Joas uit sy ouma Atalia se moord van al haar kleinkinders gered het en vir Joas saam met sy seun Sagaria grootgemaak het. En dit omdat Sagaria gesê het dat die Here hulle gaan straf omdat hulle die Here verlaat het (2 Kron 24:20-22; Luk 11:50-51).

Jesus het gesê dat vir die bloed van al die profete, wat sedert die skepping van die wêreld uitgegiet is, vergelding van hierdie geslag geëis sal word – van die bloed van  Abel tot by die bloed van Sagaria (Luk 11:47-51). Dit beteken van al die verwerpte en vermoorde profete wat in die Bybel genoem word – die Hebreeuse Bybel begin met Genesis en eindig met 2 Kronieke. Die profete het die koms van die Regverdige vooraf aangekondig. In Hand 3:14 noem Petrus Jesus ‘die Heilige en Regverdige,’ wat die Raad laat vermoor het. Ananias het na Jesus, wat aan Saulus verskyn het, verwys as ‘die Regverdige’ (Hand 22:14), so ook 1 Joh 2:1.  ‘Die Regverdige’ verwys na iemand wat lewe volgens God se vereistes (vgl. Luk 3:22 ‘God se geliefde Seun oor wie Hy Hom verheug’). Pilatus het geen skuld in hierdie ‘Regverdige’ mens voor hom gevind nie (Luk 23:4,14,22; vgl. Matt 27:4;19,24).

In die toepassing van sy lang oorsig oor Israelse verwerping van die Here en sy boodskappers, wys Stefanus die vinger na die volk, die familiehoofde en skrifkenners wat hom met geweld voor die Sanhedrin gebring het (Hand 6:12). ‘Julle het nou die Regverdige Jesus se verraaiers en moordenaars geword.’ Hulle het deur hulle haat teenoor God en sy profete, die enigste Regverdige op aarde vermoor (vgl. Rom 3:10: ‘Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie).’ Die Romeinse offisier by die kruis het ná Jesus se dood getuig: ’Waarlik, hierdie man was dikaios, regverdig/onskuldig (Luk 23:47).’ Pilatus se vrou het hom tydens Jesus se verhoor gewaarsku om niks te doen te hê met ‘daardie regverdige man’ nie (Matt 27:19).

7:53 Hulle moord van Jesus is ’n blatante oortreding van die wet wat hulle kastig so verdedig (Hand 6:13). Die wet sê duidelik: ‘Jy mag nie moord pleeg nie’ (Eks 20:13). Die verwysing na die wet kan ook die hele Ou Testament insluit wat dikwels die wet van die Here genoem word. Die verwysing na engele kan al die boodskappers van die Here insluit  – die Hebreeuse woord malak kan na boodskapper en engele verwys (Hand 3:18 God se profete; Hand 3:21 heilige profete; Hand 3:24 al die profete). In Hand 3:38 is reeds na ’n engel verwys (vgl. Gal 3:19; Hebr 2:2). Die Griekse vertaling het die moeilik verstaanbare Deutr 33:2 se ‘vurige wet’ (1983 vertaling: ‘hulle plek’) vertaal as ‘was sy engele  met Hom.’  Dit het moontlik aanleiding gegee tot die gedagte dat die wet deur die beskikking van engele gegee is. Vir Stefanus is die beskikking deur engele des te meer rede om die Raad te beskuldig dat hulle God se wet, wat deur hemelse engele oorgedra is (diatassō), oortree het met hulle verraad en moord op Jesus. Die engele is deel van die heerlikheid van God en sy heiligheid wat deur die Raad geskend is. Stefanus se prediking eindig met die vermaning wat eintlik ’n oproep op die Raadslede om tot bekering te kom en nie soos hulle vaders voort te gaan met hulle verwerping van die Here en sy boodskappers nie.

Skrywer: Prof Francois Malan

image_pdfimage_print

You may also like...