Perspektief op gebed (18) – Die hartklop van gebed. – Jan van der Watt

image_pdfimage_print

Op die skoot van Abba, Vader.

Eintlik is hierdie manier van bid iets wonderliks! Bloot die feit dat die gebed van die Here met ‘ons Vader’ begin, sê al baie. Paulus sê ook dat ons in gebed vir God kan aanroep as ‘Abba’, wat beteken vader of  pappie  (Rom 8:15; Gal 4:6). Al beteken die woord nie altyd net ‘pa’ nie, wil Paulus tog iets uitdruk van die liefde en intimiteit wat met die woord ‘pa’ saamgaan. En dit is wat met gebed gebeur – ons kom naby ons Pa; ons klim op sy skoot.

Dink net daaraan! Ons kan op die almagtige, lewende God se skoot klim, ons arms om Hom slaan en vir Hom sê ‘Pa’! Daar op sy skoot kan ons na sy hartklop luister of ons geheime wense in sy oor fluister. Maar so op sy skoot sal ons nie dinge kan vra of sê wat Hom seermaak of benadeel nie. So teen die bors van ons Vader sal sy wil en ons wil en sy gedagtes en ons gedagtes ineenvloei. So sal die verhouding tussen jou en die Vader net sterker en sterker word omdat jy net nader en nader aan Hom groei.

Ons gaan dus nie net na God se vraebus om ‘n versoek in te gooi en ander kant te gaan staan en wag vir die antwoord nie. Nee, ons gaan op die skoot van ons Pa klim. Daar gaan ons ons idees en vrae met Hom bespreek. Ons sal wil hoor hoe Hy daaroor voel! In sy antwoorde sal ons sy liefde en besorgtheid oor ons hoor, sal ons nader en nader aan Hom groei. As ons wegstap, sal dit vir ons ‘n vreugde wees om sy besluit, sy wil, te aanvaar en te gaan doen.

 

Kom ons oefen!

* Dink aan twee of drie sake wat jy vir God wil vra:………………………………………

………………………………………………………………………………………………………………..

………………………………………………………………………………………………………………..

* Verduidelik aan Hom hoekom jy dit vra en wat jy daarmee wil maak……………..

……………………………………………………………………………………………………………….

……………………………………………………………………………………………………………….

* Soek ten opsigte van elke saak ‘n oplossing wat na jou mening God gelukkig sal maak. Soek sy leiding en aanvaar dit.

 

Deel 2: God se deur staan oop!

‘n Nuusberig van God: ‘ Kom gesels, jy is welkom!’

God is betrokke by sy kinders se sake. Daarom kan ons ook alles met vrymoedigheid met Hom bespreek. In die Bybelse tyd was die mense natuurlik geweldig bewus van God se heiligheid. Net spesiale priesters kon dit naby God se heiligdom waag. Maar Jesus het dit kom verander. Hy het die troonsaal van die hemel se deure vir ons oopgestoot en ons ingenooi. Nou kan ons sonder huiwering vrymoedig met God gaan praat.

En nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan,

omdat Hy ons gebede verhoor

as ons enigiets volgens sy wil vra.

(1 Joh 5:14)

Jy kom staan immers openlik met al jou sake en jou leefwêreld voor God. Dit is mos sy sake ook, want jy is sy kind. Daarom moet jy nie huiwerig wees nie (Ef  3:12; Heb 4:16).

Maar ‘vrymoedigheid’ beteken ook tegelyk dat jy eerlik moet wees. Jy kan nie met ‘n masker voor God staan nie. Daar hoef jy nie ‘voor te gee’ om iets of iemand te wees wat jy nie is nie. Jy kan maar net jouself wees. Jy kan met jou swakhede, foute, probleme en behoeftes vrymoedig voor God gaan staan. Jy kan soos die soldaat voor ‘n groot geveg sê: ‘Here, as ek miskien deur die loop van die dag vergeet om aan U te dink, dink asseblief aan my!’

Kom sonder ‘n afspraak.. kom sommer altyd!

In 1 Thes 5:17 staan daar die kort vers: ‘Bid gedurig’.

Wat beteken dit om altyddeur of  gedurig te bid? Dit beteken om nooit jou kontak met die beheerkamer te breek nie. As soldate op een of ander sending uit is, is radioverbinding met die beheerkamer feitlik net so belangrik as wapens.

* Hulle het die versekering dat hulle nie alleen is nie. Die mense wat hulle kan help is ‘n oproep ver. En die ‘kanaal’ van die radio is net vir hulle bespreek. Hulle kan sommer te eniger tyd oor enigiets praat.

Net so is God se ‘kanaal’ vir ons ‘gedurigdeur’ oop! Hy is ‘n woord uit die hart, ‘n stille fluistering of ‘n kreet om hulp ver. God nooi ons uit om so met Hom te praat… enige plek, enige tyd. As jy in die kar sit en met God praat, of voor die stoof of in die eksamenlokaal… is God daar! Bid gedurig!

* Maar die soldate doen nou ook nie wat hulle wil nie. Hulle doen wat aan hulle opgedra is. As hulle enige verandering aan hulle planne maak, bevestig en bespreek hulle dit eers met die beheerkamer. Eintlik kan ‘n mens sê dat hulle hele optrede en houding eintlik ‘n gehoorsame reaksie op die opdrag van die beheerkamer is.

Ons lewens as gelowiges moet ook so in volledige afhanklikheid en erkenning van God se teenwoordigheid geleef word. Dit moet ‘n lewenstyl wees! Gebed beteken in die sin nie noodwendig dat ek die hele tyd met toe oë iewers staan nie. Nee, dit beteken om met oop oë in die bewustheid van God se teenwoordigheid alles te doen. Dit is asof jy saam met iemand rondstap. Jy hoef nie heeltyd te babbel nie. Selfs die oomblikke wat jy niks sê nie, is jy bewus van daardie persoon se teenwoordigheid en invloed. Die manier waarop jy optree ‘praat’ dan ook met daardie persoon. So is dit met God ook. Ons hoef nie gedurig te babbel in gebed sodat dit gebed kan wees nie. Nee, die stil oomblikke waarin ons bewus van God se teenwoordigheid leef, is ook ‘gebed’. En God wil hê ons moet altyd so leef!

‘n Godsafhanklike lewenstyl is ‘n biddende lewenstyl! En as jy so in gebed lewe, lewe gebed ook vir jou!

 Dink ‘n bietjie hieroor na: Het jy so ‘n biddende lewenstyl? Met ander woorde, is jy voortdurend bewus van God se teenwoordigheid in jou lewe?

Skrywer:  Prof Jan van der Watt

image_pdfimage_print

You may also like...