NEHEMIA – MOED (3)

image_pdfimage_print

The conclusion I dread is not “So there’s no God after all,” but “So this is what God is really like. Deceive yourself no longer.” – C. S. Lewis

 

Nehemia – Moed (3)

Daar is al heelwat boeke oor Nehemia as leier geskryf. Nou het nog ‘n nuwe boek verskyn: Leader after God’s own Heart deur Jim George (2012). Kom ons kyk na sekere aspekte van Nehemia se leierskap.

 

Kenmerk #3: Moed – verstewig jou leierskap

God het nie vir Nehemia, soos vir Josua,  drie maal gesê om nie bang te wees nie. Tog het hy baie moed geopenbaar. Hoekom? Hy ken God se geskiedenis van trou waarop jy kan vertrou.

Sy reaksie op sy vrees was ‘n keerpunt in sy lewe en God se gebruik van hom. As hy aan sy vrees toegegee het, het sy bydrae net daar tot ‘n einde gekom. Om aan vrees en lafhartigheid toe te gee, was (en is steeds) ‘n opsie – ‘n maklike uitkoms.

 

Nehemia besluit dat hy God gaan vertrou. Met die krag van God gaan hy sy vrees hanteer. Hy is bang vir wat koning Artasasta gaan doen, maar hy besluit dat hy vas gaan staan. Dit maak sy pad oop vir die toekoms wat God vir hom beplan het.

 

Hoe lyk moed?

  • Moed begin in die hart. Dit is nie ‘n onmiddellike emosie of outomatiese reaksie nie. Moed is die gevolg van harde gevegte in die hart en ‘n verstand wat vrae vra. Dit veg om die belange van ander voor jou eie te plaas. Nehemia se stryd is hoe om by sy mense betrokke te raak – hoe kan hy deel wees van die oplossing om God se mense te herstel. Die groei in Nehemia se moed begin by gebed – ‘n biddende hart.
  • Moed waag. Nehemia het elke keer as hy die koning se wyn geproe het, gewaag. Toe die koning sien dat Nehemia bedruk was, verduidelik hy wat die probleem was en vra toestemming om na Jerusalem te gaan – hy vra selfs die koning se hulp. Slegs die koning kon sy versoeke toestaan. Maar Nehemia vertrou dat God die koning se hart sal sagmaak. Die wil van die koning staan onder die gesag van die Here; soos ‘n stroom water lei Hy dit soos Hy verkies (Spreuke 21:1).
  • Moed probeer die onmoontlike. Dit vereis nie moed om die gewone te doen nie. Om die onmoontlike te doen, vereis moed. Nehemia gaan die onmoontlike probeer regkry. Vir 90 jaar probeer mense al die mure van Jerusalem herbou – sonder enige sukses. Dit is waarvoor Nehemia nou toestemming vra en kry by die koning. Om God se wil te doen, is nie onmoontlik nie al lyk dit soms so.
  • Moed neem ‘n standpunt in. Intimidasie is die gunsteling instrument van die bullebak. Die nasies om Jerusalem was bullebakke. Hulle dreig met geweld om die Jode te onderdruk. Toe Nehemia in Jerusalem aankom, neem hy standpunt in teen hierdie bullebakke. Hy beskerm sy werkers wat aan die opbou van die muur werk. Die bullebakke onttrek. Vra vir God vir meer moed as jy moet opstaan en ‘n standpunt inneem.
  • Moed soek geregtigheid. Moed soek nie ‘n geveg nie – dit vereis meer moed om nie te veg nie as om te veg. Maar groot ongeregtighede is teen die mense van Juda gepleeg. Moed baklei vir die welstand van die behoeftiges. Nehemia veg vir hulle. Leiers moet altyd hulle oë en ore oophou vir ongeregtighede en dan alles in jou vermoë doen om dit reg te stel.
  • Moed doen die regte dinge. Die regte keuses is dikwels moeilik, maar mense met moed maak die regte keuses. Nehemia is heeltemal bewus van die probleme wat vir hom voorlê, maar hy is gewillig om die regte ding te doen. Moed maak dat jy die regte keuses maak – al mag dit vir jou nadelig wees. ‘n Sterk gebedslewe sal jou keuses rig wanneer jy probeer om die regte ding te doen.
  • Moed is nie selfsugtig nie. Leiers moet die kalklig van sukses met ander deel. Nehemia was die leier; hy verdedig die stad; hy motiveer die mense om die muur te bou. Toe hy op die toppunt van sy gewildheid was, staan hy terug – hy laat Esra oorneem. Hy besef dat Esra beter in staan sal wees om die mense in aanbidding te lei. Mag God aan ons die insig gee om te besef wanneer ons deel afgehandel is; mag God ons die moed gee om met grasie terug te staan.
  • Moed gaan nie kompromieë aan nie. Nehemia spandeer 12 jaar daaraan om Jerusalem, sy mense en veral God en sy woord te beskerm. Sy besluite was dikwels ongewild; sy Joodse broers en die omliggende volke het sy besluite betwis.

 

Mense verwag dat hulle leiers moed moet hê – dat hulle kalm in die geveg sal bly; dat hulle nie sal huiwer as hulle voor moeilike en onaangename situasies te staan kom nie. Jou mense trek hulle krag en moed en voorbeeld by jou. Nehemia was ‘n sukses, want hy was bereid om te waag en God met die resultate te vertrou.

 

Ons kan ook sulke leiers wees. Ons moet net ons vrese vir sy moed inruil; ons moet put uit sy krag. God soek leiers wat die moed het om op Hom te vertrou en  wat hulle geloof in Hom daagliks op die slagveld neem. Hy soek leiers wat die moed het:

  • Om in die openbaar, by die werk en by die huis vir Hom op te staan
  • Om as modelle vir ‘n Goddelike karakter op te tree
  • Om hulle gesinne uit die wêreldse na die goddelike te lei
  • Om voortdurend vir Christus te lewe, maak nie saak wat die prys is nie

 

As jy voel jou krag is min moet jy besef dit is nie ‘n rede om oor skaam te wees nie. Baie groot leiers struikel, maar hulle val nie. As jy struikel, moet jy:

  • Sterkte en volharding by God, sy woord en sy teenwoordigheid trek.
  • Jou ideale bepaal – weet wat jy glo en hoekom. Moed kom as jy bereid is om vir hierdie ideale te veg.
  • Jou moed toets. Moed kom as jy hindernisse oorkom – dit maak jou sterker vir die volgende toets.
  • Onthou dat God met jou is – Hy is altyd daar om jou te help. Wees sterk en vol moed.

 

Omdat God met jou is en jy met God is, is daar niks waaroor jy hoef te vrees nie.

 

image_pdfimage_print

You may also like...